
“Dit wil tog lyk asof die ergste koue vir die seisoen dalk verby is, hoewel die kans altyd bestaan dat sterk koue fronte nog in die komende maande oor die land kan beweeg. Die uitwerking van so ’n stelsel sal egter net dae lank gevoel word,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Hy sê temperature gaan veral oor die somerreënstreek oor die algemeen warmer as normaal wees vir hierdie tyd van die jaar. “Dit beteken wel nie dat daar nie nog ryp kan voorkom nie. Dit kan juis die risiko verhoog dat ryp in veral September en die eerste deel van Oktober kan voorkom.”
Op sosiale media word foto’s gedeel van bome, onder meer vrugtebome, wat reeds begin bot. Mense wonder of dit die einde van die winter aankondig. Van den Berg sê daar is al bome wat plek-plek kan begin bot, veral byvoorbeeld waar dié bome se genetiese samestelling van so aard is dat hulle vroeg bot en vroeg dra. “Dit kan ook ’n teken wees dat dit plek-plek warmer begin word, maar dit sal die uitsondering wees. Daar is bome wat gewoonlik dié tyd van die jaar al begin bot of kleiner blaartjies stoot.”
Reën
Van den Berg sê vooruitsigte op swaar reën oor die winterreënstreek is swak. Weermodelle dui tans op neerslae van rondom 10 mm wat op 19 Julie en 27 en 28 Julie kan voorkom, behalwe oor die noordelike binneland van die Wes-Kaap.
Toestande is meer gunstig vir neerslae van 10 mm tot 20 mm van 7 tot 10 Augustus. Min verdere reën word verwag in Augustus, behalwe ligte reën in die laaste week van Augustus. Tans lyk toestande wel meer gunstig tydens die eerste deel van September.
Oor die somerreënstreek word min tot geen reën vir die grootste deel van dié streek voorspel in die komende ses weke. Ligte neerslae is wel teen 28 Julie oor die sentrale tot suidelike dele van die land moontlik. Verdere ligte neerslae kan in die tweede deel van Augustus oor die oostelike dele van die streek, wat insluit die kusgebiede van die Oos-Kaap, die kusgebiede van KwaZulu-Natal en die oostelike gedeeltes van Mpumalanga voorkom.
Van den Berg sê oor die Nelson Mandelabaai-metropool en omliggende gebeide kan reënval van 10 mm en minder op 20 en 21 Julie voorkom, asook in die laaste week van Julie, hoewel dié neerslae na verwagting nie genoeg sal wees om damvlakke noemenswaardig aan te vul nie.
Dit is moontlik dat wanneer die reënvalpatroon meer na die somerreënvalgebied skuif rondom September, swaarder neerslae kan voorkom langs die Oos-Kaapse kusgebiede. Teen daardie tyd sal die meeste kleiner damme in die opvanggebied van veral die Kougadam weer op lae vlakke wees en dus gaan min afloop na die groter damme plaasvind, sê Van den Berg.