
Me. Marianne Visser, oudstadsklerk van die dorpie Gariep Dam en medeskrywer van die boek Gariepdam - Toeka tot Nou, sê dit is ’n rekord.
Dit was reeds ongewoon toe die dam, wat in normale reënjare gewoonlik een keer oorloop, op 5 November vanjaar die derde keer begin oorgeloop het. Die dam, wat vanjaar sy 50ste bestaansjaar vier, word onder meer gevoed deur die Oranje- en Caledonrivier.
Visser sê die dam het in Januarie vanjaar oorgeloop en was in dié maand tot 114,25% vol. Daarna het dit weer in Maart oorgeloop, toe dit tot 104,5% vol was, in November, met sy hoogste vlak op 17 November op 115,97%, en weer vanoggend, met vandag se damvlak 100,62%.
Me. Dinky Schultz van die De Stijl Gariep Hotel langs die dam, sê daar is “ongelooflike opgewondenheid” vandag oor die vierde oorloop van die jaar. “Ons kry baie groot getalle besoekers aan die dorp. Almal is opgewonde en kom kyk na die dam wat oorloop. Dit is ’n feestelike en wonderlike atmosfeer wat ons nou beleef.”
Visser, wat die boek oor die dam saam met haar man, Johan, geskryf het, sê volgens hul navorsing was die bou van die dam die grootste projek in die destydse Oranjerivierprojek. Die dam is op 4 Maart 1972 ingewy.
“Die doelwitte van die damwal was meer besproeiing vir die landbou, hidro-elektriese opwekking, toerisme en om water aan sekere stedelike gebiede te voorsien.”
Die duurste deel van die projek was die Oranje-Vistonnelprojek met sy kanale na die Oos-Kaap, wat in 1975 voltooi is.
Volgens die flapteks van die Vissers se boek het die Oranjerivierprojek, benewens die Gariepdam met sy kragsentrale en die Oranje-Vistonnel, ook die volgende projekte van oos na wes ingesluit: Welbedachtdam, Knellpoortdam, Caledon-natuurreservaat, Tussen die Riviere-natuurreservaat, Hennie Steynbrug, Oviston-natuurreservaat, die Gariep-natuurreservaat, Vanderkloofdam met ’n ondergrondse kragsentrale en kanale, Doornkloof-natuurreservaat, en die bou van dorpe soos Welbedachtdam, Oviston, Midshaft, Teebus, Uitkeer, Oranjekrag, P.K. le Roux-Dam en Orania.
Vir nog inligting oor die Vissers se boek, kontak Marianne by 083 702 4322 of e-pos vissermad@gmail.com.