
Verspoelde paaie, boorde en landerye wat so nat is dat hulle nie kan bemes of bespuit nie, asook haelskade plek-plek kon boere se dankbaarheid vir die ongekende reën die afgelope week of twee nie blus nie. Mnr. Hendrik Botha van die Roedtan Suid-boerevereniging beskryf boere se gevoel dalk die beste. Hy het ná ’n vroeër haelstorm by Marble Hall gesê: “Anders as droogte los hael mens darem met iets.”
Hael het ná ’n storm in Mpumalanga Dinsdag kniediep gelê by plekke tussen Machadadorp en Belfast. In ’n stadium moes die N4 by die Elandsrivier gesluit word omdat water oor die pad gestroom het.
Mnr. Robert Davel, uitvoerende hoof van Mpumalanga Landbou, sê daar is nog nie erge skade uit dié omgewing by hom aangemeld nie, maar noem dat die swaar reën die afgelope tyd nou sy tol op die padnetwerk eis. Tussen Ermelo en Piet Retief is die N2 nou so stukkend dat hy motoriste en vragmotorbestuurders aanraai om uiters versigtig te wees as hulle nie ’n alternatiewe roete kan gebruik nie.
“Die probleem is dat ons oral nou al minstens 100 mm reën in ’n baie kort tydjie gehad het. Die grond is nou so versadig dat ’n harde reënbui van 15 mm paaie en landerye kan verspoel.”
Buks Human het hierdie video van die Waterval Boven-waterval wat naby dié dorp geleë is geneem en op die Reënval in SA-groep op Facebook gedeel. Die waterval vloei uit die Elandsrivier uit.
Mnr. Gideon Anderson van Zonnebloem-boerdery sê die hael het darem nie erge skade aan sy gesaaides naby Middelburg veroorsaak nie. “Ons het net ligte hael gehad,” sê hy. “Ons probleem is nou dat ons mielies ons voor is. Met al hierdie water groei hulle dat dit klap en ons kan nie in al ons landerye kom om bobemesting toe te dien en bespuitings te doen nie.”
In die Laeveld het dit ook baie gereën en hier en daar het dit gehael, maar nie so dat boere erge skade en verliese gely het nie, sê mnr. Drikus Prins, ’n landboukonsultant van Nelspruit. Soos saaiboere op die Hoëveld is produsente van subtropiese gewasse, makadamianeute en sitrus in die provinsie se Laeveld bekommerd omdat hulle nie met spuitkarre in hul boorde kan kom om dringende bespuitings in hul plantbeskermingsprogramme te doen nie.
Boonop waarsku die Suid-Afrikaanse weerdiens dat nog swaar reën verwag word oor die suidelike dele van Limpopo, Gauteng en Mpumalanga se Hoëveld.