
Die dodetal nadat tornado’s die afgelope naweek groot verwoesting in Amerika gesaai het, staan reeds op 70 mense. Luidens ’n berig op Sky News word nog lewensverlies verwag namate opruimingswerk gedoen word.
Luidens ’n berig op New York Times het die Amerikaanse nasionale weerdiens aangedui dat ten minste ses state, Arkansas, Illinois, Kentucky, Missouri, Mississippi en Tennessee, deur tornado’s geraak is. Die tornado’s het deel gevorm van ’n weerstelsel wat groot dele van Amerika ontwrig het met swaar sneeu neerslae, veral in die Midde-Weste en die westelike gedeeltes van die Groot Mere-streek, sê mnr. Bill Bunting, bedryfshoof van die stormvoorspellingsentrum.
Amerikaanse wetenskaplikes is nie seker of die uitermatige weerstelsels verband hou met klimaatsverandering nie, maar volgens navorsing wat oor die afgelope paar jaar gedoen is, kom dit voor of tornado’s in groter groepe voorkom en dat die sogenoemde tornadostrook in die Noord-Amerikaanse Laagvlakte – waar tornado’s meestal voorkom – meer ooswaarts begin beweeg.
Buitengewoon in die winter
Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê die voorkoms van dié tornado’s teen byna die middel van die Noordelike Halfrond se winter is buitengewoon, aangesien die normale tornadoseisoen in dié halfrond gewoonlik in die somer van Maart tot Augustus is.
Hy verduidelik die naweek se tornado’s is veroorsaak deur ’n baie sterk weerstelsel wat teen einde verlede week in die weste van Amerika ontwikkel het. Dit het swaar sneeu en koue toestande oor die sentrale en westelike dele van Amerika veroorsaak. Die stelsel was afkomstig van die koeler Atlantiese Oseaan (deels as gevolg van die La Niña-verskynsel) met die stelsel wat oor die Rotsgebergte ooswaarts beweeg het.
Op dieselfde tyd het die suidelike en suidoostelike dele van Amerika baie warm toestande ervaar omdat die Golf van Mexiko steeds ver bogemiddelde temperature ervaar. Dit het warm lug oor die land laat inbeweeg.
“Toe dié twee lugmassas van verskillende temperature bymekaar kom, het die lug vermeng en baie onstabiele toestande veroorsaak. Namate die warm en koue lug bots, beweeg die koue lug nader aan die aarde se oppervlak en die warm lug hoër op in die atmosfeer, kondenseer en veroorsaak baie stormagtige toestande. Die wisselwerking tussen die stelsels en die bolugwinde veroorsaak groot potensiaal vir roterende storms wat tornado’s vorm,” verduidelik Van den Berg.
Hy sê weens klimaatsverandering het die oppervlakwater van die Golf van Mexiko en aangrensende dele van die Atlantiese Oseaan die afgelope dekade verwarm. Tans is die see-oppervlaktemperature vir bykans die hele westelike Atlantiese Oseaan teen die Ooskus van Amerika van 1 °C tot 3 °C warmer as normaal. “Met die normale wintertoestande wat versterk word deur die La Niña-stelsel se kouer water langs die Weskus, kan hierdie tipe gebeurtenis – waar winter- en somerstelsels mekaar ontmoet en baie sterk tornado’s vorm as gevolg van die warm waters van die Golf van Mexiko en groter Atlantiese Oseaan – nou later as normaal voorkom omdat die Ooskus baie warmer is.”
Het dit ’n impak op SA se stelsels?
“Dit lyk nie asof dit (die gebeurtenis) enige verband hou met die huidige weer- en klimaatstelsels oor Suider-Afrika nie, behalwe dat die La Niña-stelsel se effek bydraend is tot koeler toestande oor die westelike dele van Amerika en oor Suider-Afrika. Dit kan meer stormagtige toestande oor Suider-Afrika veroorsaak, maar nie noodwendig tornado’s nie,” sê Van den Berg.