
Die grootte van Brasilië en Argentinië se oeste kan ’n wesenlike invloed op internasionale mieliepryse hê. Maar die nuwe groeiseisoen lyk nie meer so belowend vir dié twee uitvoerreuse nie. Die gevaarligte van nog ’n La Niña-verskynsel flikker vir hulle, waarsku dr. Werner Rossouw, handelaar en direkteur van Silostrat in die onderstaande artikel.
Hoewel La Niña vir Suid-Afrikaanse boere goeie nuus is, veroorsaak dit vir Suid-Amerika ondergemiddelde reënval tydens ’n belangrike produksietydperk. Rossouw verduidelik wat die impak hiervan op die Suid-Afrikaanse mieliemark kan wees:
Produksie in Suid-Amerika, en meer spesifiek Brasilië en Argentinië, is waarskynlik die belangrikste aandrywer vir plaaslike en internasionale mieliepryse in 2022. Maar waarom is hierdie twee lande so belangrik?
Die Suid-Afrikaanse mielie-aanplantings is voltooi en met gunstige weervoorspellings vir die produksieseisoen behoort pryse op uitvoerpariteitvlak te verhandel. Uitvoerpariteit is ’n dinamiese vlak wat deurentyd wissel na gelang van veranderings in die wisselkoers en internasionale graanpryse. Dit is belangrik vir Suid-Afrika om mededingend te wees op die wêreldmark sodat die moontlike surplusvoorraad uitgevoer kan word. Die vraag op hierdie stadium is wat gaan gebeur met uitvoerpariteit, dit wil sê hoe gaan pryse beweeg? Dis net hier waar ons die oog op Suid-Amerika moet hou.
Só groei produksie
Mielieproduksie in Argentinië en Brasilië het die afgelope dekade skerp gestyg. Die Argentynse produksie het vanaf 2011 se 21 miljoen ton gestyg tot ’n verwagte oes van 54,5 miljoen ton in 2022, terwyl Brasilië se 2011-oes van 73 miljoen ton oorskadu word deur 2022 se verwagte oes van 118 miljoen ton. (Sien die grafiek hier onder wat die twee lande se produksiegroei aandui.)
Hierdie toename in produksie het daartoe gelei dat Brasilië en Argentinië onderskeidelik die wêreld se derde en vierde grootste mielieprodusente is, ná Amerika en China.
Verbruik hou nie tred
Die verbruik van mielies in hierdie twee Suid-Amerikaanse lande het nie teen dieselfde tempo gegroei as produksie nie.
In 2011 het Argentinië 14 miljoen ton méér mielies geproduseer as wat verbruik is, maar die verwagting is dat Argentynse surplusproduksie in 2022 ongeveer 40 miljoen ton sal wees. In ooreenstemming hiermee het die surplusproduksie in Brasilië die afgelope dekade van 21 miljoen ton tot 45 miljoen ton gestyg, soos die twee grafieke hier onder aantoon.
Uitvoer word belangriker
Die groeiende produksiesurplus het veroorsaak dat Brasilië en Argentinië al hoe sterker op die voorgrond begin tree het as uitvoerders van mielies. Die verslag van die World Agricultural Supply and Demand Estimates (Wasde) in Desember 2021 het aangetoon dat hierdie twee lande in die 2021-’22-seisoen gesamentlik naastenby 82 miljoen ton mielies sal uitvoer. Dit is meer as dubbeld die uitvoer van die 2013-’14-seisoen, soos die grafiek hier onder aandui.
Gesamentlik voer Brasilië en Argentinië meer mielies jaarliks uit as Amerika, met die Oekraïne in die derde plek.
Risiko vir prysbeweging
Die impak van die La Niña-stelsel vroeg in 2021 het tot gevolg gehad dat Brasilië en Argentinië gesamentlik 17 miljoen ton minder mielies teenoor die vorige seisoen geproduseer het. Hierdie kleiner oes, sowel as verhoogde vraag vanaf China, het daartoe gelei dat die Amerikaanse mielie-uitvoer in 2021 met meer as 24 miljoen ton gegroei het. In die tydperk wat die tweede oes, die sogenaamde safrinha-oes, in Brasilië onder droogte gebuk gegaan het, het die prys van Amerikaanse mielies vanaf $4,31/skepel tot $6,35/skepel gestyg.
Só ly die internasionale mielievoorraad
Die internasionale mielievoorraad (China uitgesluit) het die afgelope seisoen tot 86,98 miljoen ton gedaal. Dit is die laagste vlak sedert 2012-’13-seisoen. Dit kan toegeskryf word aan die La Niña-impak op Suid-Amerikaanse mielie-oeste. Ondanks rekordoeste wat tans in Brasilië en Argentinië geskat word, verhoog die voorraadsyfer tot slegs 95,31 miljoen ton volgens die WASDE-verslag. Dit sal steeds die tweede laagste vlak sedert die 2013-’14-seisoen wees. Indien Brasilië en Argentinië egter in 2022 weer dieselfde ondergemiddelde oeste as in 2021 stroop, kan die voorraadvlak tot so laag as 60 miljoen ton daal. (Sien die grafiek hier onder.)
Impak vir Suid-Afrikaanse boere en kopers
Daar word tans rekordoeste vir Brasilië (118 miljoen ton) en Argentinië (54,5 miljoen ton) geskat. Die gevaarligte van nog ’n La Niña-stelsel is egter besig om te flikker met die suide van Brasilië en groot gedeeltes van Argentinië wat reën nodig het. Handelaars sal veral toestande in Februarie 2022 baie noukeurig dophou wanneer Brasilië se safrinha-oes geplant word. Hierdie tweede aanplanting lewer nagenoeg 77% van Brasilië se mielievoorraad.
Gunstige toestande oor Suid-Amerika met gepaardgaande rekord-oeste kan matige druk op pryse plaas, met die Amerikaanse prys wat moontlik weer nader aan $5/skepel kan wees. Enige ongunstige weerstoestande en afwaartse aanpassings in die geskatte oesgrootte behoort pryse sterk te ondersteun omdat dit tot ’n verhoogde vraag na Amerikaanse mielies kan lei. Met 2022-oeste in Suid-Amerika soortgelyk aan die ondergemiddelde oes van 2021 kan belanghebbendes op die mark prysvlakke van $6,50/skepel (of hoër) verwag. Dit sal veroorsaak dat plaaslike mielies teen hoër prysvlakke uitgevoer kan word en kan ondersteunend wees vir pryse.
Hou dus die volgende vier maande se weerstoestande in Suid-Amerika baie noukeurig dop. Dit kan ’n groot impak op jou besigheid se winsgewendheid hê (positief of negatief) en kan ook die prysrigting vir 2022 bepaal.