Die afgelope meer as ’n dekade, maar veral die afgelope vyf jaar, het ’n neiging begin ontstaan dat baie lae temperature taamlik laat ná die winter nog oor dele van die binneland van Suid-Afrika voorkom. Dit veroorsaak groot skade aan veral winterkoring-aanplantings wat in die gevoelige aar- en pitvormingstadiums is van ongeveer middel Augustus tot einde Oktober.
“In 2019 het erge rypskade rondom 30 Oktober voorgekom wat honderde miljoene rande se skade veroorsaak het. Op 3 en 4 November 2021 het swaar ryp ook pekanneutbome in die suidwestelike dele van die Vrystaat beskadig,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
“Dit is veral oor die sentrale tot suidelike binneland waar die seisoene neig om ietwat aan te skuif indien dit in leketaal verduidelik moet word. Met beperkte ontledings van enkele lokaliteite is daar gevind dat temperature wat rypskade kan veroorsaak, met 10 tot 30 dae aangeskuif het in die afgelope vyf tot vyftien jaar.” Van den Berg sê dit is veral in die sentrale en suidelike binneland waar die grootste verskille begin ontwikkel het. In die noordeliker produksiegebiede is dit, met ’n kleiner mate van sekerheid, minder as twee weke.