
Hoewel vloede in die Vaal- en Oranjerivierstelsel tradisioneel van Januarie tot Maart voorkom, is dit weens die verwagte verswakking van die La Niña-verskynlik vanjaar onwaarskynlik, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
“Dit kan veroorsaak dat damvlakke te laag gehou gaan word om verdere vloede te beperk, maar dit kan watervoorsiening in die toekoms benadeel.” Ook in die winterreëngebied is daar is ’n baie groot risiko dat damvlakke binne die volgende seisoen of twee weer tot baie lae vlakke sal daal.
“Tans is die gemiddelde vlakke byna 20% laer as die ooreenstemmende tydperk verlede jaar toe dit op 81,6% was teenoor die huidige 62%.” Die grootste dam in die Wes-Kaap, die Theewaterskloofdam, se vlak is tans 67% teenoor 97% verlede jaar. Die vlak van die Clanwilliamdam is tans op 62% teenoor 97% die ooreenstemmende tyd verlede seisoen.
“Daar is dus ’n baie groot moontlikheid dat ernstige watertekorte weer in die volgende paar jaar kan voorkom.”
Indien die Enso (El Nino Suidelike Ossilasie) in ’n neutrale fase is, soos wat verwag word vir die volgende maande, het dit dikwels ondergemiddelde reënval tot gevolg vir die winterreëngebied, sê Van den Berg.
Beurtkrag vererger situasie
Met swakker reënvaltoestande en die effek van klimaatsverandering kan baie warm toestande heers, wat waterverbruik verder kan verhoog.
“Dit is veral tydens hierdie uitermate warm tydperke waar beurtkrag ’n groot ongunstige impak kan hê op die besproeiing van gewasse as kragonderbrekings veroorsaak dat te min water toegedien word.”