Sosiale media is vol foto’s van swaar ryp wat die naweek en Maandagoggend oor groot dele van Suid-Afrika voorgekom het. Op die blad Reënval in SA op Facebook is temperature van -2 °C by Rouxville, Aliwal-Noord en Douglas aangemeld, -3 °C by Fouriesburg en -7 °C op ’n plaas naby Colesberg.
Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê ’n intense winter word oor die somerreëngebied verwag. Minimum temperature kan baie laag wees en temperature onder vriespunt kan gereeld voorkom.
Verskeie faktore kan tot die koue weer bydra. Een daarvan is dat die eliptiese vorm van die baan van die aarde om die son veroorsaak dat die afstand verder as gewoonlik is, en dus bereik minder son-energie die aarde. Na verwagting sal die aarde die verste punt rondom 4 Julie bereik.