
Heelwat Karoo-boere het oor die afgelope ses weke goeie reën en opvolgbuie gehad, maar baie boere is steeds sonder uitkoms.
“Sommige van ons kan weer asemhaal,” sê dr. Corrie Avenant van die Atka-stoetery net buite Williston nadat goeie reën in daardie streek van 26 tot 28 November uitgesak het. Die foto’s van sy plaas wys hoe groot damme water in die vaal, dooie veld staan. “Sedert Oktober het verskillende dele op ons boerdery van 75 mm tot 100 mm reën gekry in drie verskillende buie. Dit is meer as in enige kalenderjaar oor die afgelope agt jaar. Ons kon tussen begin Oktober en einde November ons lusernlanderye reeds drie maal natlei, dieselfde aantal kere as wat ons dit oor die afgelope agt jaar gesamentlik kon doen.”
Avenant hoop dat hy tot 50% van sy voerrekening sal kan bespaar as die veld goed herstel. “Ons sien reeds dat van die groter bosse begin reageer op die reën. Die gras het nog nie weer lewe gekry nie. Sodra die gras weer begin groei, sal ons hopelik 50% van die huidige voerkoste kan bespaar en dalk ’n geringe wins toon.”
Steeds geen uitkoms
Dit is egter net ’n geringe aantal boere wat hierdie vooruitsig het, sê me. Janine Beyleveld, bedryfsamptenaar by Agri Noord-Kaap. “Voor Oktober se reën was minstens 50% van ons provinsie se boere onder enorme druk. Hulle het lankal nie meer kos in die veld vir die diere nie en kan nie meer skuld maak vir voer nie. In die beste situasies kon boere hul kudde beperk tot 25% van hul veld se drakrag, maar hulle moes hierdie diere met voer aan die lewe hou. Vir baie boere is daar niks meer diere op die plaas nie en dus is daar geen manier om ’n inkomste te verdien nie.
“Ons is baie dankbaar vir die reën wat geval het, maar dit gaan nie onmiddellik beterskap bring nie. Die veld is so dood dat dit etlike reënbuie gaan kos om enige lewe in die veld terug te bring. Vir van ons boere is daar ’n flikkering van hoop danksy die reën. Vir sowat 25% is die omstandighede egter steeds sonder voorsienbare uitkoms. Ons hou aan planne beraam om hierdie boere weer op die been te kry.”
Volgens Agri Noord-Kaap het Vaalharts, Loxton, Victoria-Wes, Kuruman en Richmond van 1 mm tot 10mm reën oor die naweek gemeet, terwyl Sutherland van 10 mm tot 40 mm, Colesberg van 5 mm tot 25 mm en Williston van 11 mm tot 44 mm gemeet het.
Besoek https://agrinc.org.za om betrokke te raak by ondersteuningsveldtogte vir boere wat onder die droogte gebuk gaan.