Waterstres, risiko’s soos uitmergelende droogtes en verwoestende vloede is reeds ’n harde slag vir gemeenskappe in Afrika. Luidens die organisasie se verslag oor die toestand van die klimaat in Afrika in 2021 is ekstreme weer en klimaatsverandering ’n gevaar vir mense se gesondheid en veiligheid, voedsel- en watersekerheid, asook maatskaplik-ekonomiese ontwikkeling.
Terwyl Afrika verantwoordelik is vir die vrystelling van slegs tussen 2% tot 3% van die wêreld se kweekhuisgasse, gaan dit disproporsioneel onder die impak van klimaatsverandering gebuk.
Die verslag konsentreer veral op water en sê dat ’n beraamde sowat 250 miljoen mense in Afrika deur hoë waterstres geraak word. ’n Verwagte 700 miljoen mense sal teen 2030 as gevolg daarvan ontwortel word.