“Hierdie reën is ongelooflik baie werd en met opvolgreën so elke twee weke kan dit die einde van die langste droogte ooit wees. Almal se gemoedere is vanoggend dié van diepe dankbaarheid en optimisme. Hierdie afgelope week het boere gesê hulle gaan net aanhou boer tot einde Desember, dan gooi hulle die handdoek in. Nou wil almal net boer!”
Mnr. PF Theron, Agri Wes-Kaap (AWK) se streekverteenwoordiger in die Sentraal-Karoo, sê dit het wydverspreid in dié streek gereën. “Ek vermoed niemand is oorgeslaan nie. Dit wissel van 15 mm tot 100 mm. Dit is die beste reën wat ons in ses jaar ontvang het. Ons kan net dankie sê vir hierdie seën!”
Mnr. Laubscher Coetzee, AWK se streekverteenwoordiger vir die Klein-Karoo, sê dit reën steeds liggies op sy plaas, waar 46 mm reën sover geval het, terwyl ander gedeeltes soos Waboomskraal meer as 70 mm reën ontvang het. “Ons klowe het begin loop en die velddamme kry water. Ons weet nog nie hoeveel in die berge nie, maar ek glo dit het daar nog meer gereën. Prys die Here! Hierdie is groot uitkoms!”
Mnr. Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê dit is wonderlike nuus vir ’n streek wat al jare deur swaar droogte geteister word. “Dit is die meeste reën wat die Klein- en Sentraal-Karoo in jare ontvang het, en hoewel die veld lank gaan vat om te herstel, is ons ongelooflik dankbaar vir elke druppel!”