
Die landgoed het rondom 09h00 Dinsdagoggend foto's en video's van die eerste sneeu daar op hulle sosiale media platvorms begin deel.
Dié video is op die landgoed se Facebookblad gedeel.
Sneeu word ook in die hooggeleë dele van die Wes-Kaap verwag. Sneeu het laatoggend Dinsdag in die distrik Ceres en Worcester begin val. Mnr. Rossouw Cillie, eienaar en besturende direkteur van Laastedrif-boerdery, sê sowat 30mm reën teen Dinsdagoggend gemeet.
Die neerslae wat teen Dinsdag op sosiale media gedeel was, het gedui op tot 110mm oor dele van Kaapstad. Mnr. Richard Krige, ondervoorsitter van Graan SA, het 45mm op sy plaas in die Overberg gemeet. Metings elders in die Overberg het gewissel tussen 20mm en 48mm, met sowat 15mm in die Rooikaroo en tussen 30 en 70mm in die res van die Swartland. Volgens mnr. De Wet Viljoen, wynmaker by Neethlinghof in die distrik Stellenbosch, het hulle teen Dinsdagoggend reeds 125mm gemeet. By die Groote Post-landgoed in die distrik Darling aan die Weskus is sowat 47mm gemeet. Volgens die Kirstenbosch Garden Centre by die Kirstenbosch botaniese tuine se Facebookblad is 170mm teen Dinsdagoggend daar gemeet, maar die totale neerslae was na verwagting meer.
Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, het vroeër aan Landbou.com gesê voorspellings dui aan dat ligte tot matige sneeu oor die Wes-Kaapse berge en veral die hooggeleë gedeeltes van die Cederberge kan voorkom. Die swaarste sneeu word verwag oor die Drakensberge en die aangrensende dele van die Oos-Kaap rondom Dinsdag en Woensdag (14 en 15 Junie). Veral in die distrikte Barkly-Oos, Elliot en Rhodes is redelike sneeuneerslae moontlik.
Die volgende frontale stelsel gaan weer van Saterdag (18 Junie) reën veroorsaak, maar voorspellings dui nie tans neerslae so swaar soos vandag en môre aan nie. Neerslae van 20 mm tot 30 mm is moontlik oor die Kaapse metropool en suidelike dele van die Wynland en Swartland, met rondom 10 mm vir die res van die winterreëngebied. Baie min reën word dan vir die Tuinroete voorspel.
“Verdere reën is weer moontlik rondom 22 tot 25 Junie voordat ’n periode van ongeveer ’n week tot tien dae met minder reën verwag word,” sê Van den Berg.