
Ná die swaar reën oor groot dele van die sentrale binneland moes boere selfs roeibote gebruik om op sommige plekke die skade aan gewasse te bepaal.
Volgens mnr. Dandré Kruger van die Fyvie-boerdery naby Harrismith het hy en mnr. Edward Payne, die plaasbestuurder, roeibote gebruik om die skade by hul mielies te bepaal. Verskeie landerye in die vloedvlakte van die Wilge- en Elandsrivier naby Harrismith het vandeesweek oorstroom nadat die riviere oor hul walle geloop het.
“Ons weet nie of die mielies waarvan die koppe onder die water was, gaan herstel nie, maar ons glo dat ’n klomp van die mielies sal kan herstel. Daar is egter baie skade in ons omgewing. Dit is seker.
“Ek meen wel die Harrismith-omgewing lyk beter as baie ander plekke in die land.”
Benewens die mielies, was daar ook skade aan soja- en suikerbone wat teen die rivier geplant is, maar Kruger sê hulle is nog nie seker hoe groot die area is wat skade gekry het nie. Hy voeg egter by dat hierdie gebeurtenis net elke 15 tot 20 jaar plaasvind.
Kruger sê die streek kry gemiddeld 750 mm tot 1 000 mm reën per jaar. Die boerdery het sedert die begin van die somerreënseisoen in September 455 mm gemeet het. “Ons kan dus nog baie vat.”
Die rede vir die hoë vlakke van die Wilge- en Elandsrivier is swaar reën wat binne ’n kort tyd in die area en die opvangsgebied van die twee riviere in Lesotho geval het.
Die water is besig om terug te sak, “maar nie teen ’n hengse spoed nie”, sê Kruger.
Hy sê dit lyk wel of die omgewing mooi sonskynweer in die volgende 10 dae kan kry, maar dit is ook nie altyd ’n sekerheid nie.
Benewens die roeibote het Kruger ook die rivier vanuit die lug besigtig.
“Dit is eintlik ’n mooi prentjie om te sien, maar dit is jammer om die klomp skade te sien.”
Kruger voeg by dat die omgewing nou baie mooi lyk, maar dat die nat toestande ook probleme bring.
“Ons het al van Desember af gesukkel om koring te stroop, want ons kon nie in die lande kom nie. Hier is ’n klomp ouens wat koring gestroop het en nie kon graad kry nie, omdat die koring te nat was.”