Volgens Agri Noord-Kaap het van 5 mm tot 80 mm reën oor groot gedeeltes van die provinsie geval. Op Reënval in SA se Facebookblad is verskeie plasings gedeel met metings en getuienisse van mense wat sê dat dit die eerste keer in jare is dat hulle reën sien.
Mnr. Wimpie Steenkamp, voorsitter van die Suid-Roggeveld se landbou-unie, sê hy het baie goeie reën, 43 mm, op sy plaas by Calvinia gehad. “Ek het sulke leegtetjies wat so loop, so ek kry nou bietjie langer nat. Ek is erg dankbaar, die dankbaarheid loop vanmôre oor!”
Mnr. Wilhelm Steenkamp van Williston, wat ’n video gedeel het van ’n watermassa wat oor ’n leegte agter sy plaashuis verbygeloop het, vertel hy het sedert Woensdag 52 mm reën op sy plaas gehad. “Ek is baie dankbaar en baie bly daaroor. Die wêreld is mooi nat.”
Mnr. Carlo Nolte van Victoria-Wes sê op Loxton en Victoria-Wes was die gemiddelde reënval sowat 10 mm terwyl die reënval op Carnarvon, Brandvlei en Loeriesfontein sowat 30 mm was. Mnr. Jan-Hendrik Swiegers sê die distrik Murraysburg se reënval het gewissel van 5 mm tot 20 mm.
Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê dié organisasie, Agri Noord-Kaap en die landbougemeenskap in die Noord-Kaap is baie opgewonde oor die reën wat geval het.
“Baie plase in hierdie provinsie gaan gebuk onder finansiële laste en die boere word verswelg deur skuld. Baie plaaswerkers het ook hul werk verloor en landelike gemeenskap trek swaar vanweë die uitmergelende droogte.
“Ons hoop die reën sal weer vir hulle hoop bring. Ons hoop die reën sal die boere aanspoor om voort te gaan met hul landbou-aktiwiteite, dat hul kuddes sal herstel en dat hulle weer meer werkgeleenthede sal kan voorsien.
“Ons is bitter dankbaar vir die lekker reën wat geval het. Opvolgreën is nodig, want die ondergrondse waterbronne is ook uitgeput en dit sal tyd kos vir die veld om te herstel.”
Douglas NK 40mm vanaf 12vm tot 2.45vm.22 Okt??Ann Kilian @peoples_weather @SAWeatherServic @JoelGuy_ @AgriSA1904 @VoxWeatherZa @AfricaWeather_ pic.twitter.com/fCLS5CkElT
— ReenvalSA (@ReenvalSA) October 22, 2021
Mnr. Willem Symington, adjunkvoorsitter van Agri Noord-Kaap en skaapboer van Williston, sê al het dit op partykeer plekke meer as ander gereën, is almal vreeslik dankbaar vir die reën wat wel geval het.
“Ons besef dat dit nie die einde van die droogte is nie, maar dit was jare laas dat sulke wydverspreide reën geval het, so ons hoop regtig dat dit die begin van ’n beter reënvaltydperk sal wees en verligting sal bring.
“Ons moet maar onthou dat ons veld geweldig seergekry het in die afgelope jare se droogte. Dit het nie groen veld gereën nie en dit het ook nie geld gereën nie. Die skape wat dood is of verkoop is weens die droogte het ook nie terug gereën nie, maar iewers moet die herstel begin. Ons hoop dat dit nou die begin van die herstel sal wees.”