
Die swaar reën wat sedert die vroeë oggendure oor George in die Suid-Kaap uitgesak het, sal volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens tot vanaand voortduur.
Mnr. Nelius van Greunen, ’n melkboer van George, sê dit reën steeds erg. Verskeie paaie het verspoel en damme loop vir die eerste keer in ’n lang tyd oor. “Ons moet nog die skade bepaal, maar dit reën nog so hard dat ons nie oral kan uitkom om te sien wat aangaan nie. Ons behoort teen vanmiddag ’n beter idee te hê.”
Volgens Netwerk24 gee die George-munisipaliteit tans aandag aan verskeie noodgevalle. Verskeie paaie in en om die dorp het verspoel of is onder water.
Mnr. Henry Meyer, ’n streekverteenwoordiger van Agri Wes-Kaap van Hartenbos, sê hy het teen vanoggend om 10:00 reeds 70 mm reën gehad. Dit het ’n halfuur later by 100 mm getrek. Die swaar reën het volgens hom kragonderbrekings, asook die oorstroming van skure en melkstalle veroorsaak.
“Die graan wat buite staan nadat ons Saterdag geoes het, was met seile toegetrek, maar ’n stormsterkte wind het die seile afgewaai. Ons is nog besig om op te ruim.”
Hy sê die swak onderhoud dat paaie nou baie meer verspoel as in die verlede. Dit is vir melktenkers moeilik om melk op die plase te gaan haal.
Me Louise Botha-Crause het 'n video van die Grootbrakrivier in vloed op die Facebookblad van Reënval in SA gedeel.
Mnr. Henning Grobler van die Suid-Afrikaanse weerdiens sê die meeste reën val tans oos van Mosselbaai en oor Oudtshoorn. Volgens hom sal reënval nog vandag en môreoggend vanaf oos van Kaap Agulhas, langs die kus af, oor die aangrensende binneland en oor die oostelike binneland voortduur en dan vanaf vroegmiddag begin opklaar.
Die reën word veroorsaak deur ’n sterk ontwikkelde laagdrukstelsel oor die ooskus wat aanlandige vloei veroorsaak langs die suidkus met ’n bolugstelsel oor die Wes- en Noord-Kaap wat die stelsel versterk.
Mnr. Pieter du Plessis van SA for Hope sê die organisasie rig sopkombuise in George op om mense wie se huise oorstroom het by te staan.
Hy sê hoewel 100 mm reën op Oudtshoorn aangemeld is, wag die De Bad-boeregemeenskap by Calitzdorp steeds op noemenswaardige reën aangesien die reënval daar rondom 5 mm was. SA for Hope het juis gedurende die afgelope naweek na dié gemeenskap uitgereik om voer, water en kruideniersware af te lewer.
Hy sê dit is sleg dat die swaar reën onder meer lande verspoel het waar boere onlangs geplant het, maar hulle bly dankbaar vir elke druppel reën wat in die Karoo val. “Ons is dankbaar dat die reën stuk-stuk val. Dit gee die grond kans om die water te absorbeer. Ons glo, bid en vertrou dat die reën op die regte plekke op die regte tyd sal val.
“Dit bly egter hartverskeurend om te weet al is daar water, is daar steeds nie voer in die veld vir die diere om aan te vreet nie. Ons weet die Karoo het net ’n paar millimeter reën nodig om sy dankbaarheid te wys en groen te word.”
Nog reën die week voorspel
Die Wes-Kaapse rampbestuursentrum bied ook tans steun aan mense wat deur die oorstromings geraak word. Mnr. Anton Bredell, minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, raai mense in die geaffekteerde gebiede aan om so min as moontlik te reis en eerder in hul huise te bly.
Aangesien slegte weersomstandighede, onder meer donderstorms en verdere reënval, gedurende die res van die week vir die Wes-Kaap voorspel word, moedig hy mense aan om noodgevalle so gou as moontlik aan te meld deur die tolvrye noodnommer 112 of een van die volgende nommers te kontak:
Kaapse Wynland: 021 888 5837
Eden: 044 805 5071
Sentraal-Karoo: 023 449 8000
Weskus: 022 433 8700
Overberg: 028 425 1690
Stad Kaapstad: 107 (vanaf landlyn) of 021 480 7700