Aan die begin van Februarie het foto’s van ’n nat Sossusvlei sosiale media op horings geneem. Dis ’n gesig wat min mense beskore is aangesien Sossusvlei slegs elke vyf tot ses jaar water kry.
Sossusvlei is ’n soutpan in die onerbarmlike, ysteroksiedgekleurde rooi duine van die Namibwoestyn waar die gemiddelde reënval nagenoeg 20 mm per jaar is. Volgens mnr. John Titus, verbonde aan Sesriem Campsite, sorg Sossusvlei vir groot opwinding vir mens en dier wanneer dié vlei water kry. Dit lok duisende inwoners en toeriste na die gebied.
Sossusvlei se water kom vanaf die Tsauchabrivier wat sy ontstaan het in die suidelike Naukluftberge, in die Hardapstreek, waar dit deur die Namib-Naukluft Nasionale Park vloei, deur Sesriem en van daar af na sy eindbestemming, Sossusvlei, waar dit doodloop. Die Tsauchabrivier is 150 km lank, en nie standhoudend nie. Die water bereik die vlei nagenoeg ’n week vandat dit in die berge gereën het. Oor ongeveer 2 miljoen jaar het die water van die Tsuachabrivier die Sesriem-afgrond laat ontstaan. Dié afgrond is 1 km lank en tot 30 m diep. Die duinformasie rondom Sossusvlei vorm ’n natuurlike dam waarin die water opdam en vir tot vyf maande vir verskeie wilde diere ’n noodsaaklike waterbron is.