
Boere in KwaZulu-Natal het soos boere elders in Suid-Afrika wydverspreide skade gely het weens swaar reën en ander uiterste weerstoestande die afgelope weke.
Die KwaZulu-Natalse Landbou-unie (Kwanalu), die Suid-Afrikaanse boere-ontwikkelingsvereniging (Safda) en die bedryfsorganisasie SA Suikerrietkwekers het elkeen onlangs hul eie voorlopige formele assesserings van weerverwante skade aan die provinsie se landbousektor voltooi.
Me. Sandy la Marque, uitvoerende hoof van Kwanalu, sê talle boere in die provinsie het gedurende Desember 2021 en Januarie 2022 weens sterk wind, swaar reën, haelstorms en weerlig vee, oeste en plaasinfrastruktuur verloor het.
Daarby is talle plaas- en teerpaaie weens vloedwater ernstig beskadig of onbegaanbaar. Dit het meegebring dat boere gesukkel het om kritiek belangrike insette te ontvang of lewer.
“Die finansiële impak is miljoene rande. Dit sal steeds ernstige gevolge hê as onder meer dringende infrastruktuurbehoeftes nie onmiddellik aandag geniet nie. Dit is kommerwekkend dat die reaksie van munisipaliteite en ander staatsdepartemente meestal swak was. Die landbousektor benodig dringend die toepaslike en toegespitste ingrypings,” sê La Marque.
Dr. Siyabonga Madlala, uitvoerende voorsitter van Safda, sê te veel reën het talle van sy vereniging se lede, wat hoofsaaklik uit swart kleinboere bestaan, nadelig getref. Vir diegene wat suikerriet en/of vars produkte kweek, het die oormatige reën bygedra tot probleme soos gronderosie, versuipte oeste, gewasse wat weggespoel het, en die uitloging van duur en belangrike kunsmis en landbouchemikalieë.
“Volgens ons rekords het skade aan suikerriet en kontantgewasse as gevolg van uitloging op meer as 2 000 ha voorgekom. Dit sal meer as R12 miljoen kos om weer kunsmis toe te dien op daardie grond. Skade aan plaasinfrastruktuur is nog nie gekwantifiseer nie.”
Hy sê Safda het die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling genader vir dringende bystand vir Safda-lede wat skade gely het.
R50 miljoen en R2 miljard
Me. Bongiwe Sithole-Moloi, LUR vir landbou en landelike ontwikkeling in KwaZulu-Natal, het middel Januarie in ’n verklaring gesê meer as 3 500 ha se oeste, ongeveer 697 stuks vee en 110 strukture op plase het weens die weer skade opgedoen. Die totale skade aan boerderye in die provinsie word op R50 miljoen beraam. Sowat R2 miljard sal nodig wees om beskadigde infrastruktuur vir suikerverwerking te herstel.
“Ons gebruik die beskikbare geld om die betrokke boere te ondersteun. Ons sal ook ’n beroep op ons nasionale minister, me. Thoko Didiza, doen vir ekstra geld,” het Sithole-Moloi in die verklaring gesê.
Dr. Thomas Funke, uitvoerende hoof van die SA Suikerrietkwekers, sê die onlangse reën was in die meeste van KwaZulu-Natal se suikerrietgebiede broodnodig en welkom. Suikerrietlande in die Umfolozi-gebied is egter oorstroom deur die nabygeleë Umfolozirivier.
“Die totale skade in dié gebied sedert begin verlede jaar is R162,7 miljoen. Die betrokke produsente het nog geen bystand of vergoeding ontvang in reaksie op ons versoeke aan die regering nie. Ons is hoopvol dat ons kan voortbou op die samewerking wat ná die onluste in Julie 2021 verbeter is, en dat dit ons in staat sal stel om hierdie saak te finaliseer en noodsaaklike bystand te verseker.”