Die winterreënstreek se reënseisoen strek vanaf ongeveer Mei tot September, maar dis gekonsentreerd in Junie en Julie, veral oor die Swartland, die Kaapse metropool en die Wynland-distrik. Die Rûens en Suidkus neig meer om die hele jaar reën te kry, hoewel die meeste reën steeds gekonsentreer is in die midwinter.
Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, verduidelik dit onder meer aan die hand van die langtermyngemiddelde reënvalsyfers vir ’n plek soos Malmesbury. Hiervolgens kom sowat 7% van dié distrik se jaarlikse totale reënval gedurende April voor, 12% gedurende Mei, 18% in Junie, 16% in Julie, 15% in Augustus en 10% in September. Bredasdorp in die Suid-Kaap se reënvalverspreiding is as volg: 10% reeds in April, 9% in Mei, 12% vir elk van Junie en Julie, 11% in Augustus en 9% in September.
Hoewel die winterreënseisoen in Mei aanbreek, dui data van die afgelope dekade dat April en Mei minder reën kry, terwyl veral Junie heelwat meer reën kry. Die bydrae van Junie sedert 2010 is meer as 22% van die totale reënval vir ’n plek soos Malmesbury. Vir Bredasdorp het daar ook minder reën voorgekom in April en Mei in die afgelope dekade, maar meer reën in Junie, Julie en Augustus. “Langtermynneigings toon dus ’n effense verhoging van reënval van Junie tot Augustus.”