
Weermodelle het vroeër aangedui dat baie koue toestande aan die begin van dié week veral oor dele van Mpumalanga, die Vrystaat, die Oos- en die Noord-Kaap kon voorkom. Minimum temperature van digby -10 °C is vir plekke soos Barkly-Oos, Ficksburg en Harrismith voorspel.
Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê ’n swak laagdrukstelsel het Sondag begin ontwikkel en bewolke toestande laat ontwikkel vanaf die suide van Angola en Zambië, oor die oostelike dele van Namibië en die aangrensende dele van Botswana tot oor die Noord-Kaap, Noordwes, die Vrystaat en selfs gedeeltes van die Drakensberge. Die laagdrukstelsel het vogtige lug vanaf die Indiese Oseaan laat invloei rondom die hoogdrukstelsel wat oor die sentrale tot oostelike dele van die land geleë is.
Baie koue temperature kom gewoonlik voor wanneer daar nie wolkbedekking of winderige toestande is nie, derhalwe het die voorspelde koue toestande nie voorgekom nie.
Van den Berg sê dit is ’n baie interessante verskynsel vir hierdie tyd van die jaar, want dit verteenwoordig reeds ’n swakkerige somerweerstelsel en kan ’n voorloper wees van wat te wagte kan wees later in die somerseisoen as gevolg van gunstige toestande in die Indiese Oseaan.
Wat temperature betref, dui weermodelle aan dat minder uitermatige toestande as wat aanvanklik voorspel is, vir Julie verwag word. Minimum temperature van tot -4 °C is moontlik oor die sentrale tot suidelike binneland rondom 6 tot 9 Julie.
“Warmer temperature is veral moontlik oor die westelike en noordelike binneland tot ten minste die einde van Julie,” sê Van den Berg. “Dit kan ’n groot risiko inhou vir vrugte- en neutbome, asook druiwe aangesien dit te vroeg groei gaan stimuleer. Daar is ’n groot risiko vir skerp temperatuurdalings en ryp in Augustus en September.”
Reën
Intussen het reën die naweek oor dele van die winterreënstreek voorgekom met sowat 42 mm wat in die Paarl gemeet is, 37 mm by Kirstenbosch, 26 mm by Grabouw en 18 mm by Malmesbury. Bewolkte toestande het ook tot gevolg gehad dat die baie lae minimum temperature wat oor dele soos Ceres voorspel was, nie voorgekom het nie.
Van den Berg sê nog ligte winterreën word rondom 10 en 13 Julie voorspel. Tans dui weermodelle aan dat sowat 10 mm gaan voorkom tydens hierdie twee periodes. Van 10 mm tot 20 mm is moontlik rondom 16 Julie, veral oor die suidwestelike dele.
Ondergemiddelde reënval is moontlik gedurende Julie oor die winterreënstreek, maar daar is ’n hele paar geleenthede waar ligte reën kan voorkom, wat sal help om waterverliese te beperk.
Van den Berg sê daar is nog baie onsekerheid oor reënvaltoestande vir Augustus. Tans is die beste voorspelling dat dit gemiddeld tot ondergemiddeld kan wees, maar dat gereelde ligter neerslae die effek op veral wintergrane se watergebruik en aanvulling kan versag.
Wat reën oor die somerreënstreek betref, sê Van den Berg voorspellings dui aan dat baie min of geen reën verwag word vir ten minste die res van Julie en eerste deel van Augustus. Daar is ’n moontlikheid van ligte reën oor die Oos-Kaapse kusgebiede en die res van die Tuinroete gedurende Julie, maar dit lyk nie asof dit voldoende gaan wees om enige noemenswaardige aanvulling aan veral die groter opgaardamme te veroorsaak nie.