
Mnr. Hugh van Niekerk, Oos-Kaapse streekbestuurder van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, sê die El Niño Suidelike Ossillasie (ENSO) is tans in 'n swak La Niña-toestand, wat volgens voorspellings in die komende seisoene sal voortduur.
ENSO se teenwoordigheid gedurende die lente sal volgens hom 'n kleiner impak as in die middelsomer hê. Daarom word nie verwag dat die teenwoordigheid van die huidige La Niña-verskynsel 'n noemenswaardige impak op reënval sal hê nie.
Die multimodel-reënvalvoorspelling dui op ondernormale reënval vir die suidwestelike gedeeltes van Suid-Afrika gedurende die vroeg- en middellente met bonormale reënval elders in die land. Bonormale reënval kan in die laatlente landwyd verwag word met noemenswaardige reënval oor die noordoostelike gedeeltes van die land.
Maksimum en minimum temperature sal volgens Van Niekerk vir die grootste deel van die land bonormaal wees.
Van Niekerk waarsku dat die bonormale reënval wat in die laatlente landwyd verwag word, waarskynlik nie damvlakke sal baat in gebiede soos die Oos-Kaap en Limpopo wat tans steeds onder droogtes gebuk gaan nie. Die verwagte bonormale maksimum en minimum temperature sal volgens hom waterstres in dié gebiede vererger.
Verder kan bonormale reënval tot vloede lei.
Van Niekerk sê modelle dui op 'n droë, warmer winter vir die Winterberg en omliggende gebiede. Bonormale reënval kan van September tot Desember verwag word.
In die Gamtoos, Kouga-gebied en Nelson Mandelabaai-metro sal ernstige watertekorte voortduur weens voorspelde reënval wat nie gerealiseer het nie, en bonormale verdamping. Verligting kan van Oktober tot Desember verwag word aangesien bonormale reënval voorspel word.
Bonormale reënval word volgens Van Niekerk vir die Gariepdam in die Nooitgedachtskema verwag. Dit behoort te verseker dat dié dam meer as 50% van sy kapasiteit sal handhaaf. Weerstoestande in die Klein-Karoo sal droog en warm wees van September tot Desember, wanneer bonormale reënval verwag word.
Van Niekerk sê bonormale reënval word gedurende die vroeg- en laatlente oor die grootste gedeelte van die somerreëngebied verwag. Dit sal waarskynlik ’n gunstige impak op gewas- en veeproduksie hê. Hy moedig boere in dié gebied aan om die nodige praktyke vir grond- en waterbewaring, asook die opgaar van water te beoefen.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.