Die eerste werklike winterreën het 7 en 8 Mei oor die winterreënstreek voorgekom. Hoewel die neerslae oor die algemeen lig was, het dit oor ’n wye gebied gestrek. Die meeste reën het oor die Kaapse metropool en die Suid-Kaap uitgesak, waarna dit na die Oos-Kaap versprei het. Die volgende distrikte het goeie neerslae aangeteken: Swellendam 27 mm, Kaappunt en Hermanus elk 25 mm, Heidelberg 21 mm, Grabouw 19 mm, Kirstenbosch 16 mm, Beaufort-Wes 12 mm, die Paarl 9 mm, en Mosselbaai en Ladismith elk 8 mm. In die Oos-Kaap het Queenstown 21 mm gehad, Bisho 14 mm, Elliot 11 mm en Addo 10 mm.
“Teen einde Mei verbeter die kans op reën wanneer frontale stelsels meer gereeld oor die gebied beweeg en gunstiger toestande vir reën gaan veroorsaak. Dit lyk asof daar die laaste deel van Junie, maar veral Julie, goeie reënvaltoestande is. Tans is die kans skraal vir bogemiddelde reënval vir die res van Mei en eerste deel van Junie,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Wat die somerreënstreek betref, dui langtermynvoorspellings steeds op verdere reën tot in Junie, maar korttermynvoorspellings is ongunstig.