
Dele van die Suid-Afrika het Maandagoggend baie koue temperature aangeteken, met -8 °C wat by Smithfield in die Suid-Vrystaat en -9 °C by Wakkerstroom in Mpumalanga aangemeld is op die Facebookblad Reënval in SA. “Temperature gaan koel tot koud bly vir die res van die week, maar dit behoort nie so ver onder vriespunt te daal soos Maandagoggend nie,” sê mnr. Lehlohonolo Thobela, weervoorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens.
Thobela sê die lae minimum temperature wat voorkom in veral die distrikte naby die gebiede in Lesotho en die Drakensberg in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap, waar dit die naweek gesneeu het, kan van Woensdag af verbeter. Vir die res van Suid-Afrika word normale minimum temperature verwag, met minimum temperature van tot 10 °C wat oor sekere dele voorspel word.
“Later die week kan maksimum temperature van tot 26 °C oor dele van die Laeveld in Mpumalanga en Limpopo voorkom.” Oor die suidwestelike dele van Suid-Afrika kan maksimum temperature dié week wissel van 14 °C tot 22 °C.
Reën
Volgens Thobela dui weervoorspellings tans aan daar is ’n 30%-kans op reën Dinsdag oor die sentrale en suidewestelike dele – wat die noordelike dele van die Wes-Kaap kan insluit – asook die noordoostelike dele van die Oos-Kaap. Woensdag en Donderdag is daar ’n 30%-kans op reën oor die hele Vrystaat, dele van KwaZulu-Natal, die oostelike dele van die Oos-Kaap, dele van Noordwes en die oostelike dele van die Noord-Kaap.
Vrydag is daar ’n 30%-kans op reën oor die suidelike dele van die Vrystaat, die grootste deel van die Oos-Kaap en die westelike dele van die Wes-Kaap. “Saterdag word reën meestal oor die Wes-Kaap verwag, met ’n 30%-kans op reën oor die Oos-Kaap.”
Nie so koud soos 2021
Intussen sê mnr. Ryk Pretorius, een van Graan SA se streekverteenwoordigers in Mpumalanga wat by Ermelo boer, hoewel dit Maandagoggend koud was, was dit nie uitermatig koud vir dié tyd van die jaar op die Hoëveld van Mpumalanga nie. “Ons het hierdie jaar nog nie so koud gekry nie. Verlede jaar het ek twee keer -15 °C aangeteken, maar vanjaar was dit nog nie so koud nie.”
In die distrik Wakkerstroom was die winter vanjaar ook nog nie so koud soos verlede jaar nie, sê mnr. BP Greyling van die Langfonteingroep. “Die laagste tot dusver vanjaar was sowat -9 °C.” Greyling het verlede jaar temperature van tot -16 °C aangeteken.
Warmer winter?
Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê temperature vir die eerste drie weke van Julie 2022 is redelik matig tot warm vir hierdie tyd van die jaar. “Baie min ryp het veral in die noordelike dele van Suid-Afrika voorgekom, en is daar baie boere wat dit as een van die warmste Juliemaande ervaar.”
Van den Berg sê ’n vergelyking van die gemiddelde maksimum en minimum temperature van byvoorbeeld Prieska in die Noord-Kaap het interessante resultate opgelewer. “Indien die gemiddelde maksimum temperature vir Prieska van 1 Junie tot 15 Julie 2022 (19,59 °C) vergelyk word met die maksimum temperature in die vorige drie jare, is temperature ietwat laer as dieselfde tydperk in al drie vorige jare (2021: 20,48 °C, 2020: 20,52 °C en heelwat laer as in 2019: 22,14 °C). Wat die gemiddelde minimum temperature betref, was die 1 Junie tot 15 Julie-tydperk die hoogste (-0,17 °C) in vergelyking met die vorige drie jare. In 2021 was dit -0,49 °C, in 2020 was dit -1,24 °C en 2019 was dit -0,92 °C.
Dieselfde neiging het voorgekom in die warmer dele rondom Groblersdal. Gemiddelde maksimum temperature van 1 Junie tot 15 Julie 2022 was 23 °C teenoor 24,29 °C in 2021, 22,85 °C in 2020 en 24,59 °C in 2019. Die gemiddelde minimum temperature vir die tydperk in 2022 was 4,07 °C, in 2021 was dit 2,6 °C, in 2020 was dit 1,87 °C en in 2019 was dit 2,59 °C. “Indien Groblersdal as verteenwoordigend van die noordeliker produksiegebiede beskou word, is die minimum temperature inderdaad nie so laag as vorige jare nie, maar die gemiddelde maksimum temperatuur was die laagste van die afgelope vier jaar.
“Een van die moontlike redes is die reën wat in Junie voorgekom het met bewolkte en koeler dagtemperature, maar minder koue nagte omdat lugvog hoër was en dus ’n buffereffek kon hê,” sê Van den Berg.