
Ryp het vanoggend in laaggeleë dele van die binneland voorgekom, met foto’s van ryp by Bethlehem en Bloemfontein in die Vrystaat, asook by Butterworth in die Oos-Kaap wat op die blad Reënval in SA gedeel is.
Die koue toestande wat oor Suid-Afrika begin voorkom, is weens ’n koue front wat oor die land beweeg. Die toestande sal na verwagting tot die naweek voortduur. Volgens die Suid-Afrikaanse weerdiens sal sneeu gedurende die naweek oor die hooggeleë gebiede van Lesotho val.
Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê ligte sneeu kan Saterdag op die hoogste dele van die Drakensberge in Lesotho en die Oos-Kaap voorkom. “Weerstelsels dui tans ’n skraal kans hiervoor aan.”
Hy sê die kans op sneeu bestaan weens die vogtige toestande oor die binneland en die effek van die koue lug wat saam met die koue front beweeg, op die vog.