
Ligter reën het die afgelope week en naweek oor die somerreëngebied voorgekom, terwyl swaar neerslae oor dele van die Suid- en Oos-Kaap voorgekom het. In die distrik Riversdal in die Suid-Kaap het tot 100 mm oor die naweek geval, terwyl vloede in die omgewing van Montagu, Stilbaai, Meiringspoort tussen Oudtshoorn en Beaufort-Wes, en Kirkwoord in die Oos-Kaap voorgekom het.
Swaar hael het ook geval in die Langkloof naby Uniondale, veral by Haarlem en Misgund. Verskeie appelboorde het groot skade. Tot sowat 40 mm het die naweek oor dié gebied uitgesak.
“Dit is gunstig dat die vlak van die Kouga- en Impofudam kan styg. Die meeste van die groot aantal studamme wat in die riviere gebou is om water aan besproeiingsboere te voorsien, is redelik vol sodat water makliker afloop tot in die twee groter damme,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
“Tans is die Kougadam slegs 11,8% vol en die Impofudam 6,8%. Die water wat op pad is, behoort ’n verskil te maak aan die twee damme se vlakke in die volgende week omdat dit hoë-intensiteitreën was wat baie vinnige vloei van water veroorsaak het.”
Van den Berg sê die swaar reën is veroorsaak deur die gesamentlike effek van ’n koue front en die ontwikkeling van ’n afsnylaagdrukstelsel soortgelyk aan die stelsel wat in Desember 2022 ook swaar reën veroorsaak het oor gedeeltes van die Wes-Kaap. “Dit was gekonsentreer oor die sentrale dele van die Wes-Kaap, maar veral oor die Klein-Karoo en verder ooswaarts na die kus en noordwaarts in die Oos-Kaap.”
Hoe lyk kans op verdere reën?
Oorblyfsels van Freddy is tans die groot faktor wat reën oor die somerreëngebied bepaal. Die sikloon beweeg in en aangrensend aan die Mosambiekkanaal waar dit steeds baie swaar reën veroorsaak, maar baie min tropiese vog oor die binneland van Suid-Afrika laat afbeweeg.
Freddy beweeg tans oor die suidweskus van Madagaskar, waarna dit na verwagting weer noordweswaarts kan beweeg tot oor die sentrale dele van Mosambiek. Dit behoort vir ten minste die volgende week tot 10 dae ’n invloed op somerreën uit te oefen.
Van den Berg sê daar is wel ’n klein hoeveelheid tropiese vog wat oor Namibië suidwaarts beweeg as gevolg van ’n laagdrukstelsel oor die westelike dele van Namibië en Suid-Afrika wat enkele buie kan veroorsaak oor die sentrale tot suidoostelike dele van die Wes-Kaap, asook die aangrensende dele van die Oos-Kaap rondom 7 en 8 Maart.
“Die moontlikheid dat ’n volgende afsnylaagdrukstelsel kan ontwikkel, soos die afgelope naweek, kan nie uitgesluit word nie. Tans lyk die moontlike neerslae ligter as die afgelope week.”
’n Koue front gaan die land van 9 Maart af beïnvloed met ’n sterker frontale stelsel rondom 11 Maart. “Dit kan verdere reën veroorsaak oor die winterreëngebied, maar neerslae van minder as 10 mm word verwag. Temperatuurdalings gaan ook plaasvind met maksimum temperature wat oor die suidwestelike dele van die land tot naby 20 °C kan daal en minimum temperature tot onder 10 °C.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.