
Een van die droogste dorpe in die Noord-Kaap, Loeriesfontein, het tot dusver die naweek 50 mm reën gekry. Die dorpsdam loop oor en plaaslike inwoners sê dit is die eerste keer in ses jaar dat hulle sulke goeie neerslae gehad het. Ongelukkig het dit nie oral in die distrik gereën nie.
“Die reën het gisteraand hier begin val, asook in die noorde van ons distrik, op ’n paar plekke so bietjie meer as ander. Die reën wat op Loeriesfontein geval het, so ongeveer 50 mm, het teen tienuur begin val en natuurlik nie baie lank aangehou nie, maar die riviere en die strate en al wat ’n hol plek is in hierdie wêreld is vol water,” vertel mnr. Lambert Brand, voorsitter van die boerevereniging op Loeriesfontein.
Inwoners het foto’s op sosiale media geplaas van strate wat in riviere verander het en massas bruin modderwater wat golwe deur die dorp spoel. Tot dusver is geen berigte van skade aangemeld nie.
’n Boer in die distrik, mnr.
Hentie van Jaarsveld, sê hy het nog self nie baie reën op die plaas gehad nie.
Die reën het hoofsaaklik op die dorp self geval. “Ons boer so ’n klein stukkie
uit die dorp uit en op my plaas het ek maar 1,5 mm gemeet.” Hy het wel gehoor
van dele van die distrik Boesmanland wat 16 mm tot 20 mm reën gehad het. “Ons
het nog nie veel tyding van daar gekry oor hoe wyd en hoe ver dit gereën het
nie. Ons dorpsdam op Loeriesfontein loop darem oor en daaroor is ons baie
dankbaar.”
Boere van die Boesmanland se somerreëngebied het reën baie nodig en Brand sê hulle wag op nuus van reën uit daardie streek. “Hulle voorspel vir ons nog reën vir môre en ons hoop nou maar hy val soos hulle voorspel het. Dit sal die mense se gemoed ten minte ’n slag weer optel. Ons is baie dankbaar.”
Reën word op sosiale media ook in die distrikte Carnarvon, Williston en Sutherland aangemeld.
Weerdiens waarskuwing
Die Suid-Afrikaanse weerdiens het gewaarsku dat swaar reën, wat tot oorstromings kan lei, die naweek in sewe van Suid-Afrika se nege provinsies kan voorkom.
Inwoners van Gauteng, Mpumalanga, die Vrystaat, Noordwes, die noordelike dele van KwaZulu-Natal, die Oos- en Wes-Kaap moet bewus wees van die risiko van oorstromings wat veral in laaggeleë dele kan voorkom weens swaar reën Saterdag en Sondag.
Luidens ’n verklaring van die weerdiens kan oorstromings veral in die laaggeleë dele van die Oos-Vrystaat, die suidelike dele van Noordwes, Gauteng, die KwaZulu-Natalse Middeland en die noordelike dele van dié provinsie, asook Mpumalanga voorkom. Die weerdiens raai rampbestuursentrums in dié dele aan om op bystand te wees.