Onsekerheid heers nog oor reënvaltoestande in die komende maande oor twee belangrike wintergraanstreke, die Swartland nader aan die Weskus, en die Rûens en Suid-Kaap, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige. “Dit lyk tog asof voldoende reën in Mei gaan voorkom sodat aanplantings gedoen kan word. Die grootste risiko is in die noordelike dele van die Swartland en verder noord waar reënvaltoestande minder gunstig gaan wees.”
Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes
Suid-Afrika het hoofsaaklik vier produksiegebiede van winterkoring. Buiten die twee streke wat hier bo genoem is, is die besproeiingsgebiede van die Noord-Kaap en Vrystaat langs die Oranje- en Vaalrivier en die droëlandproduksiestreek van die Vrystaat en Noordwes ook belangrik.