My ma was lief om te sê almal wil graag reën hê, maar niemand wil dit aan sy lyf voel nie. Ek loop my buurman in Windhoek raak en ek vra uit oor die reën. Hy kla. Gister het hy 30 mm uitgegooi. Te veel. Ek vra hoe dan só. Hy sê sy wêreld is een van harde grond. Dit spoel.
Hy sê hy soek sagte reën. My buurman voel dit aan sy lyf. In die jongste Landbouweekblad word ’n boer uit die Vrystaat aangehaal wat vanweë die gevolge van buitensporige reën in sy distrik sê: “Ons mielies kan eenvoudig nie so baie water hanteer nie.
”Die reën is ’n ramp. ’n Ander een sê hy hou darem nog kop bo water. Letterlik en figuurlik. Ek lees verder. In die distrikte Bultfontein, Hertzogville, Hoopstad en Bothaville is daar boere wat tot 70% van hul mielie-oeste verloor het. Die Vrystaters voel dit aan hul lyf. En ek dink terug.