
Nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens verlede week ’n oranje vlak 5-waarskuwing vir swaar reën en moontlike vloede in Vhembe en Mopani in die verre ooste van Limpopo uitgereik het, is ’n geel vlak 2-waarskuwing gister uitgereik. Die waarskuwing geld ook die distrik Elhanzeni in Mpumalanga.
Nog ’n waarskuwing is uitgereik vir ’n uiters hoë brandgevaar in die sentrale, oostelike en noordelike gedeeltes van die Noord-Kaap. Die hittegolf in die Dawid Kruiper- en Kai !Garib-munisipaliteite sal tot Donderdag voortduur.
Dit sal gedeeltelik bewolk en warm in Gauteng wees met enkele donderstorms vanaand in die suide van die provinsie. In Mpumalanga en Limpopo sal dit ook gedeeltelik bewolk en warm wees met enkele tot verspreide buie en donderbuie.
Mooi en baie warm tot uiters warm weer word vir Noordwes en die Vrystaat voorspel met enkele buie en donderbuie.
In die Noord-Kaap kan mooi en baie warm weer verwag word. Dit sal uiters warm in die noorde van die provinsie wees. Enkele buie en donderbuie kan vanmiddag in die noordooste van die provinsie voorkom.
Mooi en warm tot baie warm weer word vir die Wes-Kaap voorspel. Dit sal uiters warm in die Weskus se aangrensende binneland wees.
Die weerdiens voorspel mooi tot gedeeltelik bewolkte en warm weer vir die Oos-Kaap met enkele buie en donderbuie vanaand langs die platorand en kus.
Dit sal gedeeltelik bewolk tot bewolk en warm in KwaZulu-Natal wees met enkele buie en donderbuie.
* Hoe lyk die weer in jou provinsie vandag? Stuur jou weerfoto’s na nuus@landbou.com.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.