In die Bo-Karoo is wisselvallige reën en droogtes ’n werklikheid. Hoewel historiese reënvalsyfers vir plase hier toon dat soortgelyke en selfs intenser droogtes voor die 1990’s voorgekom het, word huidige droogtes soms erger ervaar vanweë ekonomiese faktore en duurder lewenskoste.
Dit alles moet boere dwing om die veranderlikheid van reënval in die droë gebiede as die norm te aanvaar, sê mnr. Hannes Gerber, navorsingsbestuurder by die Noord-Kaapse departement van landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming op Upington. Gerber sê die geslag wat nou boer, het ’n ander lewenswyse en verpligtinge as hul oupas.
“Jy moet deesdae 12 lammers grootmaak om DStv te kan betaal. Ander maandelikse koste wat nie vir vorige geslagte gegeld het nie, sluit in Eskom, polisse, versekering, skoolgeld en veiligheid. Daardie betalings gaan nie weg as die reën wegbly nie.”