
Luidens ’n afkondiging in die Staatskoerant het dr. Elias Sithole, hoof van die nasionale rampbestuursentrum, ná beraadslegging met provinsiale rampbestuursentrums en ’n beraming van die omvang van die vloede se impak op sewe van die nege provinsies, gister ’n nasionale ramptoestand afgekondig.
Wydverspreide reënbuie en donderstorms kom sedert verlede week in die Oos-Kaap, Vrystaat, Gauteng, KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes voor. As gevolg daarvan het vloede voorgekom wat tot lewensverlies, vermiste persone en skade aan eiendom, infrastruktuur en die omgewing gelei het.
Ingevolge seksie 26 en seksie 23(8) van die Wet op Rampbestuur (Wet 57 van 2002) is die nasionale uitvoerende gesag se belangrikste verantwoordelikheid die koördinering van die bestuur van die ramp binne die raamwerk van die bestaande wetgewing en gebeurlikheidsmaatreëls.
Die rampverklaring is deur dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisonele sake, onderteken.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.