
“Dit was die meeste reën wat ons nog hierdie somer op een dag gekry het,” sê mnr. Hylgard Lourens van Nelspruit nadat swaar reën die R40 tussen Witrivier en Nelspruit Maandag na ’n rivier in vloed laat lyk het.
Die meeste reën het in die omgewing van Rocky’s Drift uitgesak. Lourens, wat naby die Nelsrivier boer, sê hy het Maandag 60 mm reën gemeet. Teen Dinsdag het hy nog nie van skade onder sy medeboere gehoor nie en sê die reënseisoen het Nelspruit se boere tot dusver baie goed behandel. “Ek het vier weke laas ’n pomp aangeskakel om te besproei. Ons kry nog elke derde tot vierde dag so 20 mm reën.”
Lourens sê sy makadamias en lemoene lyk besonder goed. Hy boer ook met sagtesitrus wat ongelukkig nie vanjaar so ’n goeie drag het soos die ooreenstemmende tyd verlede jaar nie. Hy skryf dit toe aan die onluste in Julie wat die oes en gevolglik die snoei vertraag het.
Selfs dit kan egter nie sy optimisme ná die goeie reën demp nie. “Ons het nog hier en daar ’n bespuiting om te doen, maar ek het nietemin besluit om vanjaar my mense vroeër af te gee. Die reënvooruitsigte lyk goed tot in Januarie wanneer hulle terugkom en dit maak geen sin om almal hier by die werk te hou as ons nie nodig het om te besproei nie.”