
Die ongewone nat weer wat die westelike dele van Suid-Afrika vandeesweek ervaar het, kan die naweek voortduur met die voorspelling dat nóg 'n afsnydruklaag wes van Suid-Afrika gaan ontwikkel.
“Gevolglik word verwag dat daar teen Donderdagmiddag reën- en donderbuie gaan ontwikkel oor die Namakwa-binneland (die westelike dele van die Noord-Kaap), wat na die westelike en uiterste noordelike dele van die Wes-Kaap sal versprei teen Vrydagoggend wanneer verwag word dat die stelsel sal versterk,” sê die weerdiens.
Vrydag en Saterdag kan wydverspreide reën- en donderbuie voorkom. Die Kaapstadse weerkantoor het gevolglik ’n geel vlak 4- en oranje vlak 6-waarskuwing uitgereik. Die eersgenoemde is van toepassing op die suidelike Namakwa-binneland in die Noord-Kaap en die Wes-Kaap van Vrydag tot Saterdag, met die laasgenoemde wat geld vir die westelike en sentrale dele van die Wes-Kaap Vrydag en die sentrale en suidelike dele van die Wes-Kaap Saterdag.
Die weerdiens waarsku dat die swaar reënbuie kitsvloede tot gevolg kan hê en dat die kans op kitsvloede versterk word deur reeds hoë grondvog en versadigde grond. Daar word verder teen gevaarlike bestuurtoestande gewaarsku, veral op grondpaaie waar die paaie deur die vorige reënbuie beskadig is.
“Sterk en rukwinde, oormatige weerlig, asook die moontlikheid van groot hoeveelhede hael kan strukturele skade in formele en informele nedersettings veroorsaak, asook ontwrigting van noodsaaklike dienste. Die landbousektor word gewaarsku dat daar ’n matige tot hoë risiko van veeverlies en weerverwante skade aan landbougewasse sal wees.”
Wes-Kaap oortref reënval-rekords
Die Paarl- en Wellington-weerstasie het nuwe reënvalrekords vir Desember aangeteken met die hewige buie verlede naweek en Maandag. Binne 24 uur is 40 mm in die Paarl en 39,8 mm in Wellington aangeteken.
Die weerdiens sê dat die afsnydruklaag teen Saterdag behoort te verswak en ooswaarts te beweeg, maar daar sal waarskynlik steeds verspreide en wydverspreide reën- en donderbuie in die Wes-Kaap plaasvind.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.