
Waarskuwings van die weerdiens van swaar reën oor dele van die somerreënstreek Vrydag is vandag opgevolg deur waarskuwings vir nog swaar neerslae oor KwaZulu-Natal.
Wydverspreide, swaar reënbuie kan volgens die Suid-Afrikaanse weerdiens vanmiddag en vanaand oor die oostelike gedeeltes van KwaZulu-Natal verwag word.
Swaar reënbuie het reeds gedurende die naweek veral langs dié provinsie se kus geval en sommige paaie verspoel. Volgens die weerdiens sal reën vandag voortduur en verdere vloedskade langs die kus en in die aangrensende binneland veroorsaak.
Die weerdiens waarsku dat die buie tot die oorstroming van paaie, brûe en nedersettings kan lei. Die oorstromings kan mense en diere se lewe bedreig, infrastruktuur en eiendom beskadig, skoolaktiwiteite onderbreek en ongelukke, erosie, en modder- en grondstortings veroorsaak.
Volgens die weerdiens word verspreide buie vandag vir die KwaZulu-Natalse binneland voorspel. Aangesien die grond reeds ná die naweek se reën versadig sal wees en sommige dreineringstelsels reeds vol is, kan vloede in die Middelland en in die noorde van die provinsie voorkom.
Die weerdiens waarsku dat nedersettings en laagwaterbrûe oorstroom kan word en dat rytoestande op grondpaaie moeilik kan wees. Gelokaliseerde modderstortings en ongelukke weens nat paaie is ook moontlik.