
Die Suidelike Ossilasie-indeks (SOI), wat die maatstaf is van die koppeling van klimaatstoestande met die seeoppervlaktoestande in die Niño-gebiede, was die afgelope ten minste drie weke op tussen +18 en +20, wat die sterkste vlakke is sedert Julie 2021. Die glyskaal van die SOI is van -30 (sterk El Niño) tot +30 (sterk La Niña).
Dit is ongewoon dat die La Niña-stelsel gedurende die herfs steeds so sterk is, want gewoonlik verswak ’n seisoen se heersende La Niña- of El Niño-stelsel gedurende die herfs, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Die meeste weermodelle dui aan dat hoewel die stelsel gedurende die winter effens gaan verswak, kan dit weer in die lente versterk. Die belangrike Niño3.4-gebied was teen middel van Mei ongeveer 1,2 °C koeler as normaal, wat die laagste temperatuur van die huidige La Niña-stelsel verteenwoordig. Groot onsekerheid heers oor wat die impak op veral reënval kan wees in die komende wintermaande, sê Van den Berg.
Nog vloedwaarskuwings vir Sydney
Die afgelope week het Sydney aan die Ooskus van Australië die sesde vloedwaarskuwing hierdie seisoen gehad. Daar bestaan ’n sterk ooreenkoms tussen gebeure in die oostelike en suidoostelike dele van Australië en die somerreëngebied van Suid-Afrika. Dit laat dus die vrae ontstaan oor die verdere impak van die ongewone sterk La Niña-ontwikkeling en die gebeure aan die Ooskus van Australië op reënvalverwagtinge in Suid-Afrika.
Van den Berg het teruggekyk na die weergeskiedenis en sê die 30-dae-gemiddelde SOI vir April 2022 was die tweede sterkste positiewe syfer vir April sedert 1876, toe die eerste berekenings van die SOI gedoen is. “Die sterkste syfer was in April 2011 toe dit op +23.9 was teenoor einde April 2022 toe dit op +20.01 gestaan het.”
Van den Berg sê verdere swaar reën het in 2011 voorgekom en daar was ’n vloed in die Wes-Vrystaat in die eerste week van Junie 2011. Daar was ook erge vloede in die Oos-Kaap gedurende Mei 2011, die eerste week van Julie 2011 en in September 2011. Vloede het ook in Australië in die staat Nieu-Suid-Wallis en veral in die Sydney-omgewing voorgekom vanaf Maart 2011 en daar was nog vloedwaarskuwings op 30 Mei 2011.
Een van die kenmerke van die effek van ’n sterk La Niña-verskynsel op reënval in Suid-Afrika (en Australië) is die ontwikkeling van baie sterk laagdrukstelsels wat afsnylaagdrukke vorm, sê Van den Berg. Dit is dikwels geografies kleiner stelsels, maar veroorsaak baie intense reënval oor kleiner gebiede wat baie vinnig kan ontstaan.
“Gegewe die sterk La Niña-stelsel en die swaar reën aan die Ooskus van Australië is daar aanduidings dat verdere reën oor die somerreënstreek moontlik is in die volgende weke, veral oor die sentrale tot oostelike en suidoostelike dele,” sê Van den Berg.