
Die gebied het die afgelope winter skaars ’n derde van sy
langtermyngemiddelde reën gekry.
Mnr. De Graaff Genis wat op Brakkies by Kamieskroon boer, sê dit het 32 mm tot 40 mm op sy plaas Klipkuil naby Groenrivier-strandoord gereën. “Ek het ooie wat moet lam. Die reën is daarom ’n verskriklike uitkoms. As die Sandveld reën kry, gee hy veld.”
Hoewel water van Sondagmiddag tot Maandagoggend oor dele van die openbare pad tussen Garies en Groenrivier gestroom het, was daar volgens Genis in die veld min tekens van verspoeling omdat die water in die grond ingetrek het.
Genis sê toe hy deur die water geloop het om vir gate te kyk, het dit hom opgeval hoeveel grond daar in die water is. “En dis mos bogrond.”
Kapt. Gert Coetzee van die plase Sarrisam, Sandkraal en Tierberg, wes van die N7 by Garies, het onderskeidelik 53 mm, 30 mm en 30 mm reën op die plase gemeet.
“Ons het lekker uitkoms gehad. Ons het baie rede om dankbaar te wees.”
Coetzee sê hy het die beste reën op die Sandveldplaas gekry.
Ook hy sê dat die sandgrond die reën soos ’n spons opgesuig het. “Die reën sal ongelooflik baie vir die veld beteken.”
Hy het Dinsdag gesê van die grondpaaie wes van die N7 wat na seestaan- en hengelplekke lei, is toegemaak.
Noord-Kaap kry wyd reën
Volgens Agri Noord-Kaap het dit wyd in dié provinsie gereën. Loxton het 3-40 mm gemeet, Victoria-Wes 10-25 mm en Williston 3-80 mm. Vaalharts het 7 en 8 Desember 10-40 mm reën en hael gekry en 11-49 mm op 10 en 11 Desember.
Severn in die Agri Kurumangebied het 50-80 mm reën gekry, Kuruman 70-80 mm en Hotazel 60-80 mm.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.