
Minimum temperature kan vandag en môre (Dinsdag en Woensdag) oor veral die suidelike dele van die Vrystaat, die aangrensende dele van die Noord-Kaap en die noordelike dele van die Oos-Kaap tot by vriespunt of laer daal en ryp veroorsaak. Plekke soos Smithfield, Aliwal-Noord en Barkly-Oos kan veral verwag om temperature onder vriespunt te ervaar, sê mnr. Johan van der Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Die somerreënval begin nou einde se kant toe staan, hoewel nog neerslae oor die sentrale dele van Suid-Afrika voorspel word. Op kort termyn is reën van minder as 20 mm van 28 tot 30 April moontlik oor die oostelike dele van die Noord-Kaap (oos van Upington), die hele Vrystaat, Noordwes, die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Gauteng en dele van Limpopo en Mpumalanga.
Wat neerslae oor die winterreënstreek betref, is ligte reën moontlik einde April en vanaf die tweede week van Mei. Daar is ’n moontlikheid van swaarder reën in die Suid-Kaap en die Overberg in die tweede week van Mei.
Sneeu?
Van den Berg sê voorspellings op sosiale media dat sneeu oor die volgende 10 dae in Gauteng kan voorkom, is fopnuus. Daardie voorspelling is ’n paar jaar gelede uitgereik.
Dit is baie moontlik dat sneeu vanaf Junie kan voorkom wanneer dit koud genoeg gaan wees en daar nog genoeg vog in die lug is. Daar kan dus vanjaar meer sneeu as ander jare val.
Enso en La Niña
Intussen duur die La Niña-verskynsel voort. Die gemiddelde Suidelike Ossilasie-indeks (SOI) vir 30 dae, as aanduiding van die invloed van see-oppervlaktemperature se koppeling met oorliggende weerstelsels, is die sterkste sedert die begin van die huidige La Niña-verskynsel in Julie 2021.
Van den Berg sê dit staan tans op ’n skaal van -30 (sterk El Niño) tot +30 (sterk La Niña) op +17.3, terwyl die 90-dae-gemiddelde daaglikse SOI op +13.3 staan. “Hierdie is van die mees positiewe SOI-waardes vir hierdie tyd van die jaar sedert 1999. As dit verder versterk, kan dit die winterreëntoestande laat verswak, maar ’n baie sterk sein uitstuur vir bogemiddelde reënval vir die somer.”
Van den Berg sê die huidige sterk lopie van La Niña en die SOI is uniek. Voorbeelde in die geskiedenis oor die nagevolge hiervan is dus skaars. Een moontlike uitkoms is dat dit verdere uitermatige weerstoestande tot gevolg kan hê en dat produsente dus op ’n gereedheidgrondslag moet wees vir veral stormweer. Die kans op redelike swaar sneeu is vanjaar bogemiddeld.