
Terwyl bogemiddelde reënval die afgelope maand in die somerreengebied geval het, was Desember ook in die Wes-Kaap ’n nat maand met bogemiddelde reënval. Die bewolkte en koel toestande saam met reën begin probleme skep by druiwe en vrugte, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige in sy jongste weerverslag.
Die reën het egter ook tot gunstige toestande in groot dele van Suid-Afrika gelei, veral in die Karoo. Groot dele van die Karoo, insluitend die suidwestelike dele van die Noord-Kaap, aangrensende dele van die Wes-Kaap en die binneland van die Oos-Kaap het bogemiddelde reënval gehad.
“Dit is die eerste keer in meer as ses jaar en in sekere dele die eerste keer in meer as 10 jaar dat goeie neerslae met opvolgreën in groot dele van die Karoo voorgekom het,” sê Van den Berg.
In die droogtegeteisterde Oos-Kaap het sommige damvlakke begin verbeter met die Kougadam wat tans meer as 16% water bevat teenoor minder as 5% ’n maand of twee gelede. Kleiner damme in die Langkloof het ook water gekry en vooruitsigte lyk weer gunstig nadat watertekorte in die afgelope paar jaar die vrugtebedryf erg geknou het.
Wat die winterreëngebied betref, is daar nog te veel onsekerheid om betroubare vooruitsigte vir die komende reënseisoen te verskaf, sê Van den Berg.
Die huidige La Niña-verskynsel, wat nat toestande in Suid-Afrika tot gevolg het, sal oorgaan in neutrale toestande en dan waarskynlik na El Niño vanaf September 2022.
“Dus behoort die winter van 2022 ietwat droër te wees oor veral die suidwestelike dele van die Wes-Kaap, wat die Swartland insluit,” sê Van den Berg en voeg by dis moontlik dat die draaipunt van die natter siklus in die volgende jaar of twee bereik gaan word, hoewel die verwagte El Niño van 2022-’23 steeds bogemiddelde reënval oor veral die Suid-Kaap kan veroorsaak.