Swaar reën het verwoesting oor dele van KwaZulu-Natal gesaai die afgelope week, met verskeie gebiede wat van hul meeste reënval nog vir die eerste twee weke van April aangeteken het. Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê Durban het meer as 480 mm aangeteken, Margate 673 mm en Port Edward 552 mm. Dit verteenwoordig ongeveer 60% van die jaarlikse totale reënval en is tussen ses en sewe keer die langtermyngemiddelde reënval vir die hele April.
Talle reënvalrekords vir die periode is egter ook elders in Suid-Afrika oortref. Mnr. Danie Bester, wat boer op die plaas Rietbult in die distrik Balfour in Mpumalanga, sê dié seisoen is volgens die plaas se historiese reënvalrekords natter as dié van 1975, toe talle dele van Suid-Afrika onder vloede deurgeloop het.
“Ek kyk nou hier oor die plaas en dit lyk of die Vaalrivier verdwaal het. Dit lyk of ’n boot dalk nie eens hier sal kan loop nie, hy gaan dalk sink.” Bester sê hy het sedert die aanvang van die somerreënseisoen reeds meer as 1 200 mm op sy plaas gemeet. Sy gemiddelde jaarlikse reënval is sowat 680 mm. “In die laaste 10 dae alleen het daar 207 mm geval.”