
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê in sy seisoenale voorspelling dat die El Niño Suidelike Ossilasie (Enso) teen die herfs na neutrale toestande kan terugkeer. Die bonormale reënval oor feitlik die hele Suid-Afrika gedurende die middelsomer kan aan die stelsel toegeskryf word.
Luidens ’n verklaring dui die weerdiens se nuutste voorspellings vir die res van die somer daarop dat ondernormale reënval oor die somerreëngebied moontlik is, buiten vir gedeeltes van die oostelike binneland waar voorspellings vir reënval nog onseker is.
Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê daar is wel ’n kans op oorstromings in dele van Suid-Afrika oor die volgende weke vanweë laagdrukstelsels en nog ’n tropiese storm wat oor die Indiese Oseaankom ontwikkel. Lees hier meer.
Winterreën
Van den Berg sê tradisioneel heers warm en droë toestande in die laatsomer en herfs oor die winterreëngebied. “Met die La Niña-stelsel nog teenwoordig kan dit egter meebring dat tropiese vog oor die westelike dele van die Nood-Kaap af oor die gebied inbeweeg en ’n redelike kans op donderweer en reën veroorsaak. Veral oor die Suid-Kaap en verder teen die Suid- en Ooskus is bogemiddelde somerreënval moontlik, maar selfs die meer westelike dele ook.”
Hoewel somerreën oor dié gebiede tot veral einde Maart moontlik is, sê Van den Berg vanweë die La Niña-stelsel bestaan ’n sterk moontlikheid dat die werklike winterreënval uit die normale frontale stelsels eers baie later as gewoonlik kan voorkom en dat planttyd vertraag kan word.
“Dit sal dus baie voordelig wees om landerye vroegtydig voor te berei om nie tyd te mors as aanplantings vinnig gedoen moet word op ’n laat stadium nie.”
Aanduidings vir 2022-’23-somerseisoen
Van den Berg sê met die huidige La Niña-stelsel wat na verwagting teen ongeveer April sal oorgaan na ’n neutrale fase tot ongeveer Augustus tot Oktober vanjaar, is daar nog baie min sekerheid oor wat in die 2022-’23-somerseisoen kan gebeur.
“Huidige voorspellings dui op ’n ongeveer 50%-kans van die voorsetting van die neutrale fase. Die kans op ’n La Niña- of El Niño-stelsel is ongeveer 20% tot 30% elk, wat maar die waarskynlikhede op lang termyn verteenwoordig. Dit is egter baie moontlik dat die 2022-’23-seisoen geleidelik kan oorgaan na neutraal en later na El Niño-toestande om die begin van ’n droër siklus vanaf ongeveer 2024 of 2025 af in te lei.”