Die Indiese Oseaan Dipool (IOD) is een van die belangrike faktore wat tot Suider-Afrika se klimaat bydra, tesame met ’n El Niño- of La Niña-stelsel.
“See-oppervlaktemperature in die Indiese Oseaan wat tot bo 30 °C kan styg in die sentrale tot noordelike Indiese Oseaan in komende maand, speel ’n groot rol om die posisies en intensiteit van hoog- en laagdrukstelsels te bepaal,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Hy sê die Australiese buro vir meteorologie voorspel tans dat die Indiese Oseaan Dipool (IOD) in ’n negatiewe fase inbeweeg. Dit beteken dat oppervlakwater nader aan die Afrikakuslyn koeler is, terwyl dit warmer is nader aan Australië. “Dit beteken dat laagdrukstelsels verder ooswaarts in die Indiese Oseaan ontwikkel en hoogdrukstelsels meer weswaarts nader aan Afrika. Die posisie van die hoogdrukstelsels wat sterker in die westelike Indiese Oseaan is, veroorsaak dat tropiese vog op die perimeter van die hoogdrukstelsel anti-kloksgewys rondom die hoogdruk oor Oos-Afrika beweeg, en wolke en reën oor die westelike en suidelike dele van Afrika vorm.”