Die eerste frontale stelsel wat plek-plek swaar reën en sneeu vir die winterreënstreek gebring het, gaan die naweek opgevolg word deur ligter neerslae. “Reënneerslae van 20 mm tot 30 mm is van Saterdag af oor die Kaapse metropool en suidelike dele van die Wynland en Swartland moontlik, met sowat 10 mm vir die res van die winterreëngebied. Baie min reën word dan verwag vir die Tuinroete,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Van den Berg sê die sterk frontale stelsel het Sondagaand oor die suidwestelike dele van die Wes- en Noord-Kaap begin inbeweeg. Die redelike sterk noordelike tot noordwestelike winde wat daarmee gepaard gegaan het, kan Dinsdag meer weswaarts en dan suidwaarts draai. Dit sal dan baie koue polêre lug vanuit die suidelike dele oor die binneland invoer. “Teen Donderdag 16 Junie sal die wind weer noord draai in reaksie op die volgende sterk frontale stelsel wat Suid-Afrika nader, en wat die land teen Vrydagnag vanuit die suidwestelike dele gaan tref.
“Verdere reën is weer moontlik van 22 tot 25 Junie voordat ’n tydperk van ongeveer ’n week tot tien dae met minder reën verwag word,” sê Van den Berg.