
Weermodelle dui tans aan dat reën weer van 12 tot 14 Junie oor veral die sentrale en oostelike dele van die somerreënstreek kan voorkom. Boere word aangemoedig om gewasse wat stroopgereed is, so vinnig moontlik te stroop. “Met die sterk La Niña-stelsel is die langtermynvoorspelling steeds gunstig vir verdere reën in die somerreëngebied,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Hy sê hoewel korttermynvoorspellings toon dat ligte neerslae in die tweede week van Junie gaan voorkom, kan meer reën voorkom as wat voorspel is, soos wat die neiging tot dusver hierdie seisoen was. Daar is ook ’n moontlikheid van reënerige en baie koue toestande in die eerste week van Julie.
Oos-Kaap
Van den Berg sê reënvooruitsigte begin verswak vir die baie droë gedeeltes van die Oos-Kaap waar damme nog baie leeg is, soos in die omgewing van Hankey. Daar is wel nog ’n kans vir reën teen die laaste week van Junie en die eerste deel van Julie, maar dit is onwaarskynlik dat dit genoeg gaan reën sodat damaanvulling kan plaasvind.
Gegrond op reënvaltoestande van soortgelyke jare in die geskiedenis, soos in 2011, het vloedtoestande in die eerste week van Julie 2011 groot dele van die Oos-Kaapse kusgebiede getref, veral Nelson Mandelabaai en Buffalo City. Daar is dus steeds ’n kans dat swaar reën kan voorkom in die komende maande oor hierdie droogtegeteisterde gebiede. Dit is egter te onseker om daarvolgens te beplan met dag zero (ten opsigte van watervlakke) wat baie naby is vir hierdie gebiede. Dit is egter belangrik om uitermatige gebeurtenisse te verwag en vloede is nie totaal uitgesluit nie.
Winterreënstreek
Die koue front wat gedurende die laaste naweek van Mei oor die winterreënstreek voorgekom het, het ligte reën oor die Weskus so ver as Nieuwoudtville en Clanwilliam gebring. Van die meeste reën het oor die Kaapse Metropool voorgekom waar 30 mm by Bellville gemeet is en 29 mm by Kaappunt. Goeie neerslae het ook verder ooswaarts rondom Villersdorp voorgekom waar 41 mm gemeet is, terwyl 18 mm by Hermanus en 10 mm by Struisbaai uitgesak het.
Die koue front het temperature skerp laat daal oor die suidelike en sentrale binneland, en die eerste swaar ryp het oor die Suid-Vrystaat, die Oos- en die Noord-Kaap voorgekom.
Min winterreën word binne die eerste 10 dae van Junie oor die grootste deel van die streek verwag. In die tweede deel van Junie, maar veral in Julie gaan frontale stelsels meer gereeld oor die gebied inbeweeg.
Van den Berg sê voorspellings op langer termyn is baie onseker. Gegrond op die sikliese aard van reënval lyk dit egter nie asof ’n baie droë winter verwag word nie. Soortgelyke jare in die geskiedenis het dikwels uitermatige weerstoestande veroorsaak.