
Swaar reën het sedert middel November oor dele van die somerreënstreek begin voorkom en reën is steeds moontlik oor die winterreënstreek.
Die suidwestelike dele van die Swartland, die Kaapse wynland, die Kaapse metropool, die Suid-Kaap en die Tuinroete kan tot Woensdag (15 Desember) ligte reën kry. Weermodelle dui tans ook aan dat neerslae van sowat 20 mm van 22 tot 26 Desember oor die Suid-Kaap moontlik is, terwyl sowat 10 mm op 22 en 23 Desember oor die suidwestelike dele van die Wes-Kaap kan voorkom.
Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê verder teen die Ooskus op en die aangrensende binneland, op plekke soos Jansenville, Joubertina, Gqeberha en Oos-Londen, kan 20 mm tot 30 mm voorkom voor einde Desember. Reën is oor die noordelike dele van die Oos-Kaap moontlik.
In wat as ’n abnormale reënpatroon beskryf word, het die winterreënstreek van Mei tot Desember vanjaar gereeld reën gekry, terwyl die winterreëntydperk gewoonlik van Mei tot middel Augustus strek.
Veral die reën in die laaste deel van November en die eerste deel van Desember het skade aan ongestroopte wintergrane en selfs vrugte en druiwe veroorsaak het, sê Van den Berg. Vanaf begin Oktober tot middel Desember het baie plekke ongeveer 50% meer reën as normaal gekry. Die oorsaak hiervan is die unieke opstelling van see-temperature in die Atlantiese Oseaan (waarvan die water tans warmer as gewoonlik is teen die Weskus op) en die Indiese Oseaan (wat koeler teen die Suid- en Ooskus is), asook die effek van die La Niña-verskynsel.
Bogemiddelde somerreën
Van der Berg sê ten opsigte van produksietoestande het ongeveer 60% van die reën vir die somerseisoen tot op hede in bietjie meer as drie weke voorgekom.
Volgens reënmetings het bogemiddelde reën sedert die laaste week van November oor veral die sentrale, noordelike en oostelike dele van Suid-Afrika voorgekom.
Hy sê van 1 Julie tot middel Desember het die meeste distrikte in die somergraangebiede meer reën as in die ooreenstemmende tydperk van 2021 gehad. Vanjaar het Standerton in Mpumalanga 459 mm gehad (260 mm in 2020), Amersfoort 460 mm (251 mm in 2020), Witbank 368 mm (278 mm in 2020), Delmas in Gauteng 313 mm (143 mm in 2020), Coligny in Noordwes 278 mm (208 mm in 2020) en Koppies in die Noord-Vrystaat 466 mm (251 mm in 2020).
Op enkele plekke is ietwat minder gemeet as in 2020. Bothaville het in 2021 303 mm gehad (317 mm in 2020), Hartswater in die Noord-Kaap 221 mm (251 mm in 2020) en Schweizer-Reneke in Noordwes 130 mm (215 mm in 2020).
Komende weke uiters belangrik
Wat die stand van somergrane betref, sê Van den Berg die komende weke gaan van deurslaggewende belang wees om die eerste fase van die somergraanoes te bepaal.
Tot dusver was daar gereeld bewolkte toestande en die atmosferiese aanvraag na vog was baie laag, wat veroorsaak het dat die reënval baie doeltreffend in die grond kon indring. Daarmee saam was die grond in baie gebiede reeds versadig vanaf die vorige seisoen se reën, asook reën wat in veral Oktober vanjaar voorgekom het.
“Die wateronttrekking deur plante is stadig omdat dit nog klein is. Daar is ook al hoe meer water wat nie meer kan indring nie en veral op baie gelyke oppervlakke ook nie vinnig kan wegdreineer nie. Dus gaan die volgende klompie weke van deurslaggewende belang wees vir die somergraanoes.”
En wat is die verwagting?
Met die La Niña-verskynsel wat nou sy normale impak op reënval begin uitoefen, wys kort- tot mediumtermynvoorspellings dat nog heelwat reën en bewolkte toestande op pad is vir veral die Oos-Vrystaat, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Gauteng in die tweede deel van Desember. Meer as 100 mm reën kan oor dele voorkom.
“Met baie bewolkte toestande en hoë lugvog kan dit ernstige versuipprobleme begin skep vir somergrane, asook probleme met die begaanbaarheid van landerye om bobemesting toe te dien. Boere in veral die Oos-Vrystaat en ander besproeiingsgebiede, waar die koring byna stroopgereed is, kan groot skade ervaar.”
Op langer termyn lyk dit asof verdere reën kan voorkom in veral die eerste deel van Januarie oor bykans die hele somergraangebied. Met die effek van die La Niña-stelsel, wat gewoonlik die band van reën weswaarts laat beweeg vanaf die laaste deel van Januarie, is dit moontlik dat die oostelike dele in Februarie volgende jaar minder reën kan kry en die neerslae meer weswaarts kan uitbrei.