
Die hittegolftoestande duur voort oor die noordwestelike, noordelike en noordoostelike dele van Suid-Afrika, met weerstoestande wat deur ’n sterk tropiese storm en ’n hoogdrukstelsel beïnvloed word. Die stelsel het dalende, warm lug tot gevolg.
Op die perimeter van die stelsel het goeie neerslae oor die naweek oor veral Namibië asook plek-plek in die Noord- en Oos-Kaap voorgekom. In Namibië het die Oshakati-omgewing vloede ervaar met swaar reën ook rondom Otavi, Summerdown en Otjiwarongo.
In die distrik Cradock in die Oos-Kaap het sedert 19 Januarie meer as 100 mm geval. Ook in die Noord-Kaap het daar kol-kol reën voorgekom met tot 37mm wat by Prieska gemeet is en in die Wes-Vrystaat is 50 mm in die distrik Dealesville gemeet.
“Baie min reën het in Noordwes, Gauteng, die Noord-Vrystaat, Limpopo en Mpumalanga voorgekom. Op plekke soos Mareetsane, noordwes van Lichtenburg, het sedert middel Desember byna geen reën voorgekom nie,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige. “Hoewel die grond nog nat is van die reën in November en die eerste deel van Desember, begin daar hitteskade en selfs plek-plek droogteskade voorkom omdat die atmosferiese aanvraag baie hoog is en die plante se watervoorsiening via die wortels nie voldoende is nie.”
Van den Berg sê hoewel tropiese storm Cheneso effens verswak het namate dit oor Madagaskar beweeg het, is die kans groot dat dit weer gaan versterk namate dit oor die warmer water – 29°C tot 30°C – van die Mosambiekkanaal gaan beweeg. “Sommige voorspellings toon windsnelhede van tot 150 km/h kan op 28 Januarie voorkom. Hoewel daar tans nog onsekerheid is oor die rigting van beweging in die volgende week, lyk dit tog asof dit die normale roete tot in die Mosambbiekkanaal gaan volg en dan suidwaarts en later suidooswaarts in die suidelike Indiese Oseaan gaan wegbeweeg.
“Wat egter van belang is, is dat hierdie tropiese storm genaamd Cheneso swakker reënvaltoestande en hoë temperature oor veral die sentrale tot noordoostelike dele van Suid-Afrika gaan veroorsaak tot ten minste die einde van Januarie of selfs tot in die eerste week van Februarie.”
Ligte neerslae
In die somerreënstreek is die gebiede met die beste kans op reën tot einde Januarie die suidelike dele van KwaZulu-Natal en die noordoostelike dele van die Oos-Kaap, met tot 50 mm wat oor die gebiede moontlik is. Vir die res van die somerreënstreek lyk dit asof slegs ligte neerslae van minder as 20 mm verwag kan word. In die grootste deel van die Noord-Kaap en die westelike dele van die Oos-Kaap word geen reën verwag nie.
“Dit lyk asof hierdie patroon gaan voortduur tot ten minste die einde van die eerste week van Februarie, behalwe dat toestande verbeter oor die noordelike dele van Suid-Afrika. In Gauteng en Limpopo kan neerslae van meer as 30 mm in die eerste tien dae van Februarie voorkom,” sê Van den Berg. “In die tweede week van Februarie lyk dit asof reënvaltoestande verbeter oor die sentrale tot oostelike dele van Suid-Afrika.”
Temperature gaan hoog bly oor veral die noordelike, noordwestelike en westelike dele van Suid-Afrika. Temperature hoër 35 °C is moontlik oor die westelike dele van die Vrystaat, Noordwes, Limpopo, die Noord-Kaap en die binneland van die Oos-Kaap tot ongeveer die einde van Januarie.
Vir die winterreënstreek word min reën vir dié tydperk voorspel, behalwe ligte neerslae van minder as 10 mm oor die Suid-Kaap en aangrensende binneland veral rondom 24 Januarie. “Oor die sentrale tot westelike binneland van die Wes-Kaap lyk dit asof nog ligter neerslae van minder as 5 mm moontlik is tot ten minste die tweede week van Februarie.”
Hoë temperature gaan voortduur, met die uitsondering van die kusgebiede en aangrensende binneland. Maksimum temperature gaan hoër as 30 °C en selfs met tye hoër as 35 °C wees, met slegs enkele koeler dae wanneer ligte reën kan voorkom.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.