
Stormagtige weerstoestande, wat swaar reën, hael, sterk wind en uitermatige donderweer tot gevolg kan hê, word vandag oor die westelike dele van die Vrystaat, die westelike dele van Noordwes en ’n groot deel van die Oos-Kaap verwag.
Orange level 5 warning: Thunderstorms: Eastern Cape: 22/12/2021 pic.twitter.com/Upyt80TTMu
— SA Weather Service (@SAWeatherServic) December 21, 2021
Me. Jacqueline Modika,
weervoorspeller, sê die swaar neerslae kan plek-plek tot oorstromings lei, terwyl die uitermatige weerstoestande skade aan infrastruktuur kan veroorsaak en verkeer kan ontwrig.
Die neerslae volg op goeie reën wat reeds oor groot dele van die somerreëngebiede uitgesak het. Oorstromings kan dus makliker voorkom omdat grondwatervlakke in dele reeds versadig is.
Volgens Modika sal die weerstoestande môre oor die sentrale dele van Suid-Afrika opklaar, terwyl swaar neerslae en stormagtige toestande môre oor die suidoostelike dele van die Oos-Kaap en die oostelike en suidelike dele van KwaZulu-Natal verwag word. “Die res van die week word donderstorms plek-plek oor veral die oostelike dele van die land verwag, maar ons verwag nie enige verdere uitermatige weerstoestande nie.”
Intussen is verkeer op die N5 tussen Paul Roux en Senekal in die Oos-Vrystaat vanoggend ontwrig toe die Sandrivier die pad oorstroom het. Donderstorms het deur die nag oor dele van die Oos-Vrystaat voorgekom, en die neerslae het daartoe bygedra dat dié rivier die hoofweg oorstroom het. Modika sê die weerdiens het nog nie enige reënvalmetings uit dié distrikte ontvang nie.
George Cloete het hierdie video van die N5 vanoggend op die Facebookgroep Reënval in SA gedeel.