
Minder reën het in die laaste 10 dae van April voorgekom as wat aanvanklik verwag is, hoewel goeie neerslae wel op plekke aangeteken is.
Die swaarste neerslae is in die Vrystaat gemeet met 53 mm by Wepener, 48 mm by Bloemfontein en 39 mm by Hennenman. Goeie neerslae het in die Noord-Kaap by Postmasburg (41 mm) en Victoria-Wes (23 mm) voorgekom. In die Wes-Kaap is by Knysna 38 mm gemeet. In die Oos-Kaap is by Khowa (Elliot) 79 mm gemeet, by Graaff-Reinet 47 mm, by Komani (Queenstown) 26 mm en by Oos-Londen 33 mm. In KwaZulu-Natal het by Richardsbaai 70 mm geval, by Port Edward 58 mm en by Greytown 30 mm.
Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê die droër toestande het bygedra tot afdroging van gewasse wat binnekort gestroop moet word, hoewel van die somergesaaides wat laat aangeplant is, weens die koeler toestande probleme met groeivertraging ondervind.
“Laat aanplantings van somergewasse wat nog nie fisiologies volwasse is nie, is deur die ryp in die laaste 10 dae van April geraak. Dié gewasse kry egter meer skade deur ’n baie stadige groeitempo met lae temperature en veral die min sonskyn gedurende die eerste deel van April. In baie gedeeltes van die somergraangebied heers minimum temperature van onder 10 °C, wat groei baie vertraag en in sommige gevalle byna stopgesit het.”
Van den Berg sê gewasse in die grootste gedeelte van die somergraangebied is egter fisiologies volwasse en veral sojabone is oesgereed. “Die minder reën en sonskyn sedert die laaste week van April is baie voordelig om landerye te laat afdroog en vog van grane self te verlaag sodat gestroop kan word.”
Hoe lyk die volgende twee maande se reënval?
Op kort termyn het reënvaltoestande verswak vir veral die eerste tot middelste deel van Mei. Aanvanklike voorspellings het redelike hoeveelhede reën en bewolkte toestande getoon, maar dit lyk asof neerslae baie ligter gaan wees. Ligte reën kan rondom 14 tot 16 Mei oor veral die suidoostelike dele van Noordwes, die hele Vrystaat, die suidelike dele van Mpumalanga en die sentrale tot suidelike dele van KwaZulu-Natal voorkom.
Weermodelle dui tans aan dat reën weer einde Mei oor die sentrale en oostelike dele van die somerreënstreek kan voorkom. Min reën word gedurende Junie verwag, sê Van den Berg.
Toestande vir reën oor die winterreëngebied het op kort termyn verbeter. Reën is moontlik oor die sentrale dele van die winterreëngebied se Wynlandstreek, asook die Overberg en Suid-Kaap rondom 7 en 8 Mei wanneer ’n koue front ligte reën en skerp temperatuurdalings gaan veroorsaak. Van 10 Mei af is meer reën moontlik oor veral die Swartland en aangrensende gebiede.