
’n Geel vlak 2-waarskuwing vir swaar storms en reënbuie, skadelike wind en weerlig is nogeens uitgereik vir die weste van Noordwes en die Vrystaat.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku dat bestuurstoestande gevolglik uitdagend kan wees en die lewering van dienste plek-plek opgeskort sal word.
’n Uiters hoë brandgevaar word vir die Khai-Ma-munisipaliteit in die Noord-Kaap voorspel. In die noorde van die provinsie sal dit uiters warm wees, andersins gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm met geïsoleerde tot verspreide donderbuie in die noordooste.
In Gauteng en Noordwes sal dit gedeeltelik bewolk en warm wees met verspreide buie en donderstorms.
Bewolkte en koel tot warm toestande met geïsoleerde buie en donderstorms word vir Mpumalanga, Limpopo en die Vrystaat voorspel.
In die Wes-Kaap kan gedeeltelik bewolkte tot mooi en warm tot baie warm weer verwag word. In die Oos-Kaap sal dit aanvanklik koel wees, maar andersins gedeeltelik bewolk en warm met geïsoleerde tot verspreide buie en donderbuie in die binneland en noorde van dié provinsie.
In KwaZulu-Natal sal dit bewolk en koel wees, maar plek-plek warm in die noorde met verspreide buie en donderbuie.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.