
Die weerdiens sê luidens ’n verklaring die El Niño Suidelike Ossillasie (ENSO), wat tans in ’n La Niña-fase is, sal waarskynlik gedurende die komende weke na ’n neutrale fase terugkeer en gedurende herfs en winter ’n kleiner impak hê. Die huidige La Niña-fase sal dus nie gedurende die komende winterseisoen ’n noemenswaardige impak op reënval hê nie.
Die modelle wat die weerdiens gebruik om reën te voorspel, dui op ondernormale reënval vir die grootste deel van Suid-Afrika. Dit sluit die sentrale en oostelike kusgebiede in die vroegwinter en oostelike kusgebiede gedurende middel- en laatwinter uit.
Maksimum en minimum temperature sal na verwagting bonormaal wees, behalwe in gedeeltes van die Noord-Kaap en Oos-Kaap waar ondernormale temperature verwag word.
Die weerdiens waarsku mense in gebiede wat steeds onder die droogte gebuk gaan, dat ’n gebrek aan reënval plek-plek tot ’n afname in waterreserwes kan lei. Munisipaliteite word versoek om die nodige ingrypings toe te pas om die impak hiervan te versag.
Ondernormale reënval gedurende middel- en laatwinter kan tot waterskaarsheid lei in veral die Oos-Kaap, Limpopo en Noord-Kaap waar damvlakke reeds kritiek laag is.
Daar is steeds volgens die weerdiens ’n hoë risiko dat vloede in die suidoostelike gebiede van Suid-Afrika, insluitend KwaZulu-Natal, kan voorkom weens bonormale reënval gedurende vroeg- en laatwinter.
Die weerdiens voorspel dat die Winterberg en omliggende gebiede ’n droë, koue winter kan verwag wat weens ’n gebrek aan wolkbedekking tot ryp kan lei. Die Gamtoos, Kouga-gebied en Nelson Mandelabaai-metro sal volgens die weerdiens erge watertekorte ervaar weens ’n gebrek aan reënval en bogemiddelde verdamping.
Ten spyte van die verwagte ondergemiddelde reënval sal die Gariepdam voldoende water voorsien. Steytlerville, Jansenville en omliggende gebiede in die Klein-Karoo kan ’n droë, koue winter verwag.