
Die tropiese storm Ana, wat op 20 Januarie as ’n laagdrukstelsel in die verre oostelike gedeeltes van die Suidwes-Indiese Oseaankom ontwikkel het, het gedurende die naweek versterk en oor Madagaskar beweeg. Op Sondag 23 Januarie het dit die warm Mosambiekkanaal bereik en verder versterk.
Teen Maandag 24 Januarie het die storm Angoche in Mosambiek bereik en aangehou om weswaarts in die rigting van Tete, Mosambiek, te beweeg.
Hoewel Ana intussen aansienlik verswak het weens wrywing met die landmassa asook ’n verlies aan vog, het swaar reën chaos oor Sentraal-Mosambiek en Suid-Malawi veroorsaak.
Volgens die weerdiens beweeg die storm tans oor Noord-Zimbabwe. Dit sal na verwagting môre oor die suidelike dele van Zambië beweeg.
Dit sal verligting vir Malawi bring, maar swaar reënbuie sal in Mosambiek voortduur en vandag ook oor Zimbabwe voorkom. Teen môre sal reënbuie ook in Zambië voorkom. Reënbuie sal volgens die weerdiens aan die einde van die week en gedurende die naweek oor Malawi en Zambië voortduur.
Die storm se impak op Suid-Afrika is egter sover gering. Dit veroorsaak tans reënbuie in Limpopo, wat volgens die weerdiens nie ’n ongunstige impak op die provinsie sal hê nie. Donderstorms word teen die einde van die week in die oostelike gedeeltes van Suid-Afrika verwag.
Tot dusver is geen waarskuwings uitgereik nie. Die weerdiens sal voortgaan om die situasie te monitor.