
Ligte reën word veral van 11 tot 13 September, 16 tot 20 September, asook 27 tot 28 September voorspel. “Die beste neerslae behoort van 10 mm tot 15 mm te wees en dit behoort oor die suidelike dele van die Wynland-distrik, asook die Kaapse metropool voor te kom. Ligte sneeu is moontlik oor die hooggeleë gedeeltes van die Suidwes-Kaap, soos die Matroosberg. Dit kan ook verder noordooswaarts uitbrei,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Van den Berg sê met reën en baie koue toestande wat van ongeveer 11 September af oor die winterreënstreek verwag word, is daar ’n baie groot kans dat sneeu kan voorkom vanaf 12 September oor die berge van die Suidwes-Kaap.
“Dit kan uitbrei na die berge van die Oos-Kaap, en teen 13 September oor die suidelike, suidoostelike en oostelike Drakensberge en omliggende gebiede sneeu veroorsaak met baie koue toestande. Met ’n redelike hoeveelheid vogtige lug is reën moontlik oor hierdie gebiede met ’n baie groot kans op sneeu.”
Die toestande kan uiters gevaarlike toestande skep vir veral kleinvee en boere word gewaarsku om betyds voorsorg te tref. “Sneeuneerslae kan swaarder wees en verder uitbrei soos wat gebeur het met die sneeu in die laaste deel van Augustus. Dit kan ook oor die noordelike Drakensberge voorkom.”
Ondergemiddelde neerslae
Wat reënneerslae betref, dui korttermynvoorspellings op ondergemiddelde winterreën gedurende September. Die paar geleenthede waar ligte reën kan voorkom, kan veroorsaak dat baie bewolkte toestande gaan voorkom met baie hoë lugvog. “Temperature kan dus ook weer tot onder vriespunt of naby vriespunt daal, veral van 11 tot 13 September, maar dit is nie uitgesluit dat dit ook later in September nog skerp kan daal nie.”
Langertermynvoorspellings toon dat ondergemiddelde winterreën in Oktober kan voorkom. “As sterk somerreënstelsels oor die somerreëngebied begin ontwikkel as gevolg van die effek van die La Niña-stelsel en die gunstige opstelling van die Indiese Oseaan, kan reën in November en Desember oor die Wes-Kaap voorkom as vog oor die Noord-Kaap afbeweeg.”
Van den Berg sê die weerverskynsels van skerp wisselende temperature, baie winderige toestande en sporadiese reën in die winterreëngebied, asook tropiese vog wat op Lentedag donderweer en ligte reën oor die somerreënstreek veroorsaak het, is redelik normaal vir dié tyd van die jaar.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.